

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 13 October 2006
Bekende plaaslike ruiter Leonie van Nieuwenhuizen is gekies vir die Noord-Gauteng senior span wat Saterdag (14de) aan ‘n Afrika uithourit oor 120km in Botswana gaan deelneem.
Leonie se veertienjarige dogter, Lanèl, is op haar beurt gekies as reserwe vir die junior Noord-Gauteng span vir dieselfde kompetisie.
Leonie sê dat die ander vyf ruiters in haar span almal nasionale ruiters is wat al vir Suid-Afrika gery het.
“Dit is ‘n groot eer om gekies te wees. Dit is altyd belangrik om nie ‘n fout te maak, soos om die perd te ooreis nie, maar nou is dit nog meer belangrik, omdat elke fout vir jou span punte kan kos,” sê Leonie.
Spanne van Suid-Afrika, Namibië en Botswana gaan aan hierdie uithourit by Lobatse deelneem. Temperature daar kan by die 40ºC wees en 75 van die 99 ruiters gaan aan die 120km deelneem. Die ruiters spring 02:00 of 04:00 weg, afhangende van die grootte van die maan, om maksimum gebruik te maak van die koeler oggendure.
By die keuse van ‘n span word daar gekyk na elke ruiter se rekord en hoe konstant die ruiter en perd se vertoning is. Leonie het vir drie agtereenvolgende jare goed gevaar in die nasionale Fauresmith uithourit oor 201km. Sy het in Augustus en September vanjaar twee eersteplekke ingeoes, in Polokwane oor 80km en by die Eiland oor 120km, twee kompetisies waarin Lanèl ook eersteplekke ingepalm het in die juniorafdeling. Leonie het op 30 Julie vanjaar ‘n vierde plek in ‘n Afrika uithourit in Walvisbaai oor 120km verwerf. Lanèl het 2 905km kompeterende ritte agter die blad en het uitstekend gevaar in internasionale kompetisies in die kinderafdeling.
Nog ‘n kriterium by spankeuse is dat die ruiter op meer as een perd suksesvol kan wees. Beide Leonie en Lanèl vaar goed op meer as een perd.
‘n Deurslaggewende faktor by kompetisieritte is die effektiwiteit van die ruiter en perd se ondersteuningspan. Daar is Leonie gelukkig om haar man, Niewies van Nieuwenhuizen, te hê wat saam met Sagarias Matshipa die span vorm wat haar ondersteun. Hulle ondersteun ook vir Lanèl.
Beide ma en dogter ry vir die Platorand Uithouritklub wanneer hulle kompeterend ry en is ook lede van die Soutpansberg Ruiterklub.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
