

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 27 October 2006
Baie mense in die gemeenskap vra steeds hoe dit met hul goue atletiekdogter, Marli Knoetze, gaan.
Marli, nou ‘n Puk-student, is op Woensdag, 18 Oktober, tydens ‘n glansgeleentheid op Potchefstroom aangewys deur die Universiteit van Noordwes as Junior Sportvrou van die Jaar. Sy is ook vereer vir haar internasionale deelname by die Statebondspele waar sy ‘n negende plek in gewigstoot behaal het. Daar is melding gemaak daarvan dat sy tiende op die wêreldranglys vir junior vroue is, haar eerste plekke by die SASSU Atletiekkampioenskappe, die feit dat sy Suid-Afrika se senior kampioen is en die SA Junior O/19-kampioen. Die Junior Sportman, Lehann Fourie (110m hekkies) en die Senior Sportvrou, spiesgooier Justine Robinson, kom ook uit atletiekgeledere.
Marli, wat op 2 Oktober haar negentiende verjaarsdag gevier het, is besig met ‘n vier-jaar diploma in Sportkunde. Vanaf 1 Augustus is sy voltyds op die kampus, terwyl sy die eerste gedeelte van die jaar deeltyds gestudeer het om voorsiening te maak vir haar deelnames in die gewigstootnommer.
Marli geniet die studentelewe en sê dat daar darem genoeg tyd vir oefen is. Sy het ook mooi herstel na haar onlangse besering wat haar weggehou het van die IAAF Wêreld Junior kampioenskappe in Beijing. Haar nuwe afrigter is Pieter van Gent, wat besig is met sy Meestersgraad in Sportwetenskap en deur die Pukke aangestel is as gewigstoot- en diskusafrigter en -instrukteur.
"Ons kom goed oor die weg," sê Marli, tydens ‘n vinnige besoek aan Louis Trichardt om haar motor, geborg deur Thompson Motors, te laat diens. Marli skryf haar eerste vak op 7 November, maar die oefenprogram gaan onverpoosd voort.
Marli werk vir die Suid-Afrikaanse byeenkomste wat aan die begin van volgende jaar plaasvind. Nog net so vriendelik en nederig soos altyd, sê Marli dat sy graag goed genoeg wil wees om die studentespan na die Universiade in Bangkok in Augustus 2007 te haal.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
