

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 16 February 2007
Die blink atletiekster van Levubu, Marli Knoetze, se liggie is tydelik verdof weens ‘n besering, maar sy is vasbeslote om helderder as ooit te skyn sodra sy herstel het.
Aanvanklik het Marli gedink dat sy ‘n spier in haar rug beseer het en is daarvoor behandel.
Sy het die besering opgedoen in Julie 2006, pas voor die IAAF Wêreld Junior kampioenskappe in Beijing in Augustus, waar sy gemik het vir goud in die gewigstootnommer. Die besering het haar egter weerhou daarvan om saam met die span Beijing toe te gaan.
Marli (19) was vanaf 1 Augustus verlede jaar voltyds op die kampus van die Universiteit van Noordwes in Potchefstroom waar sy besig is met ‘n vierjarige Diploma in Sportkunde.
Vanaf Augustus was sy vir drie maande op ‘n herstel-oefenprogram. Na die Desembervakansie het sy in Potchefstroom met groot ywer haar strawwe oefenprogram hervat.
"Sommer met die eerste gewigoptel sessie, het ek weer seergekry," vertel Marli tydens ‘n besoek aan Louis Trichardt verlede week. Marli en haar pa, mnr. Willie Knoetze, het besluit dat sy ‘n top ortopeet in Pretoria sou gaan sien, wat bepaal het dat sy ‘n rugwerwel het wat geskuif, gekraak en ontsteek het. Marli moet vir ses maande rustig wees en geen impakoefeninge doen nie. ‘Rustig wees’ beteken vir Marli dat sy aanhou met kardio- en wateroefeninge.
"Dis ‘n lekker tyd vir my om gewig te verloor," glimlag Marli, altyd positief, vriendelik en nederig soos wat haar ondersteuners haar deur die jare leer ken het.
"En tyd om te studeer," voeg Pa Willie by.
As sewentienjarige was Marli Knoetze alreeds die Afrika-Junior rekordhouer in die gewigstoot, sowel as die Suid-Afrikaanse Junior rekordhouer. Marli is ook die Suid-Afrikaanse Senior kampioen. Sy het in September 2005 twee goue medaljes vanaf Tunisië huis toe gebring nadat sy die Afrika rekord met 40cm verbeter het met haar skittergooi van 16.93m in die gewigstoot. Sy het ook ‘n goue medalje vir diskus by dieselfde geleentheid verwerf.
Verlede jaar het Simoné du Toit Marli se rekord met twee sentimeters verbeter toe sy met haar afstand van 16.95 ‘n vierde plek in Beijing verower het.
Volgens die spesialis sou aanhoudende rugoefening in hierdie stadium vir Marli ‘n permanente besering kon veroorsaak, maar met rus sal sy volkome kan herstel.
"Marli het net te swaar geoefen laasjaar," sê pa Willie. Nadat haar rug vir ses maande gerus het, sal Marli weer deur die ortopeet ondersoek word. As alles reg is, sal sy sewe jaar se harde werk hervat en weer reik na die sterre. Hierdie vasbeslote jong atleet word met groot verwagting dopgehou.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
