ADVERTISEMENT:

 

Geen rugbytoernooi kan sekerlik sonder besering wees nie. Dié senior amateur speler van Laeveld was Saterdag op Levubu ongelukkig genoeg om ‘n lelike sny op te doen, danksy ‘n rugbystewel teen die kop. Mediese personeel was gou by om die bloeding te stop.

Rugbygeskiedenis vir Levubu tydens sub-unie week

 

Sport  Date: 01 October 2004

 

LEVUBU – ‘n Fees van rugby was die afgelope week op die spyskaart met die hou van ‘n sub-unie rugbyweek hier. Die hoofborg was Tusk Venda Casino Hotel.

Dit was ‘n geskiedkundige gebeurtenis, aangesien dit die eerste keer in die geskiedenis was dat provinsiale wedstryde op Levubu se veld gespeel is.

Onder die eregaste was mnr. Dolf van Huysteen, President van die Blou Bul Rugby-unie en ook uitvoerende lid van Sarvu. Mnr. Van Huysteen het hoë lof gehad vir die Levubu Rugbyklub en die bydrae wat die klub maak tot die bevordering van rugby in Suid-Afrika.

Die wedstryde is gekenmerk deur goeie hardloop rugby en het ‘n goeie aanduiding gegee van die diepte en kwaliteit van spelers in die noorde van die land.

Die rugbyweek het Donderdag, 23 September, afgeskop met ‘n wedstryd tussen die O/23 sub-unie rugbyspanne van die Noorde en Waterberg. Daarna het die O/23 sub-unie rugbyspanne van die Vhembe Rhinos en Sentraal teen mekaar te staan gekom. In die eerste wedstryd het Waterberg deurgedring na die finaal, terwyl die Vhembe Rhinos op hulle beurt deurgedring het na die finaal. Die bogenoemde vier spanne het ook in die senior liga teen mekaar testaan gekom, met die Noorde wat dié keer koning gekraai het oor Waterberg en die Vhembe Rhinos wat weer vir Sentraal kafgedraf het.

Vrydag (Erfenisdag) is slegs een wedstryd beslis, nadat die ander spanne ter elfde ure onttrek het. Dié oop wedstryd was tussen die Levubu Rugbyklub en die Louis Trichardt Rugbyklub, met Louis Trichardt wat as oorwinnaars uit die stryd getree het.

Die hoogtepunt van die week se wedstryde was Saterdag met die aanbied van die finale rondtes.

Donderdag se verloorders het mekaar eerste gepak. In die O/23-liga klop die Noorde die span van Sentraal naelskraap met 23-22. Daarna het Waterberg en Sentraal mekaar die stryd aangesê in die senior-afdeling met Waterberg wat naelskraaps wen met ‘n telling van 26-25.

In die finaal van die 0/23-liga het Waterberg te staan gekom teen die Vhembe Rhinos. Die wedstryd is 28-21 beklink in die guns van Waterberg.

Voor die hoofwedstryd van die dag, tussen die senior spanne van die Noorde en die Vhembe Rhinos, het Limpopo se O/20-amateurspan teen ‘n gekombineerde span van die Levubu Rugbyklub gespeel. Dit het gevolg nadat Laeveld se O/20-span te midde van groot ongelukkigheid Vrydag van die wedstryd onttrek het. Dit was weliswaar eenrigting verkeer, met Levubu wat aan die korste end getrek het. Die wedstryd het 72-10 in die guns van die Limpopo O/20’s geëindig. Limpopo se senior amateurspan het ook die geleentheid gekry om hul slag te wys teen Laeveld se senior amateurspan. Limpopo was duidelik net te sterk vir Laeveld en het die kragmeting 48-23 gewen.

Die hoofwedstryd van die dag het hierna aangebreek en was die volmaakte afsluiting vir ‘n baie suksesvolle toernooi. Die Noorde was egter die sterkste span op die veld en het die Vhembe Rhinos 29-5 geklop. Sodoende het die Noorde as die beste senior span uit die stryd getree, terwyl Waterberg kon spog met die beste O/23-span. Hennie Snyman is aangewys as beste O/20-speler, terwyl André Beer die beste senior speler was.

Mnr. Chris Cohen, voorsitter van die Vhembe Streek asook die Levubu Rugbyklub, het na afloop van die toernooi sy dank uitgespreek teenoor almal wat bygedra het tot die week se sukses. Hy was vol waardering vir Tusk Venda Casino Hotel vir hul borgskap.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines