

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 30 March 2007
Die bestuur van die MAC Messina Rugbyklub onder leiding van mnr. Follie van Zyl, president van die MAC Messina Rugbyklub, kan met trots sê dat hulle tweede aanbieding van die jaarlikse Grenfell Rugbydag op Saterdag, 24 Maart, 2007, ‘n reuse sukses was.
Toeskouers het nie alleen die geleentheid gehad om plaaslike rugby te ondersteun nie, maar kon ook ‘n blik kry op die gehalte rugby wat deur die jong opkomende rugbysterre van die TUT (Tswane Universiteit van Tegnologie) rugbyklub, gespeel word. Twee spanne van die TUT het deelgeneem. Die 0/19-span, waarvan Magnus Crossberg (die 2006 kaptein van die Rooikatte van Hoërskool Eric Louw) deel gevorm het, het vinnig korte mette gemaak met die span van Pietersburg, wat merendeels uit veel ouer spelers bestaan. Die TUT eerstespan wat te staan gekom het teen Letaba se eerstespan het ook met die louere weggestap.
Bo en behalwe die puik rugby wat tydens die dag gespeel is, is die dag gekenmerk deur ‘n samehorigheidsgevoel onder die gemeenskap van Musina. Besoekers van heinde en ver (Phalaborwa, Pretoria en Polokwane) het deel gevorm van die dag se toeskouers. Volgens die kontrole by die toegangshek is vasgestel dat sowat 400 voertuie deur die loop van die dag toegang tot die verrigtinge gehad het.
Mnr. Van Zyl se liefde vir hierdie sport strek nie alleen so ver soos sy talle borgskappe om ‘n rugbydag van die gehalte te lewer nie, maar veral in sy betrokkenheid by die ontwikkeling van die sportsoort. Buiten die MAC Messina Rugbyklub se ontwikkelingspan het hy ook die Universiteit van Venda se rugbyspan onder sy vlerk geneem. Rugbypale vir die spogstadion op die sportvelde van die Venda Universiteit is deur hom geborg. Verder steun hy hulle ontwikkeling met afrigting, asook ander kundigheid. Hierdie span het Saterdag ook die geleentheid gehad om deel te neem en hoewel hulle nie daarin kon slaag om te wen nie, was die ondervinding deel van hul ontwikkeling en groei.
Mnr. Van Zyl is verder van mening dat hy ook die jonger geslag, veral die 0/13-spelers, bewus wil maak van die potensiaal binne hierdie sport. Sy oogmerk is om in Thohoyandou deelname aan hierdie sport aan te wakker.
As vise-president van die Blou Bul Rugbyunie wil hy graag die hele Vhembe-distrik, wat onder sy voogdyskap staan, opnuut ‘n passie vir die sport op plaaslike vlak laat beleef. Een van die belangrikste oogmerke van die MAC Messina Rugbyklub is juis om die gemeenskap byeen te bring. Oor al die jare is rugby een van die sportsoorte wat groot ondersteuning van die publiek lok. Hierdie gees van ondersteuning en betrokkenheid is juis nodig om veral jongmense weer aktief die belewenis van eensgesindheid onder mekaar te laat ervaar.
Die hele Grenfell Rugbydag is gekenmerk deur hierdie uitbundige rugbygees. Toeskouers het hulleself reeds van vroeg die oggend gesellig rondom die veld ingerig. Braaivleisvure en agtergrondmusiek het die regte "rugby atmosfeer" geskep wat hoort by ‘n dag soos dié. Na afloop van die wedstryde het die skare gesellig saam gedans op die ritme van Roosterbrood se orkes. Die dansveld is tot so ver as die kwartlyn benut.
‘n Dag soos dié se geslaagdheid lê nie alleen in die hande van diegene wat dit organiseer nie, maar ook in die wat dit ondersteun, hetsy as borge, toeskouers of deelnemers. Daarom kan elkeen wat deel gevorm het van die dag se gebeure met reg trots voel op die feit dat hulle aandeel help bou het aan die groei en ontwikkeling van een van Suid-Afrika se beste spansporte.
Diegene by wie hierdie nuwe rugbygees reeds posgevat het, kan met verwagting uitsien na die MAC Messina Rugbyklub se ligaseisoen wat reeds op 14 April, 2007, met ‘n tuiswedstryd begin waar hulle kragte gaan meet teen Phalaborwa. Hul doel is om in daardie wedstryd te poog om die ideaal van 80 punte op die telbord te plaas. Ander tuiswedstryde vind plaas op 28 April, 12 Mei, 19 Mei en 2 Junie.

ADVERTISEMENT:
