ADVERTISEMENT:

 

Ranald Vise, Sigrid Jefferies en Machel Greyling het besluit om die 201km saam af te lê.

Ruiters trotseer koue tydens Fauresmith

 

Sport  Date: 20 July 2007

 

Vyf ruiters van Louis Trichardt het vanaf 3 tot 5 Julie uiterste weersomstandighede getrotseer vir deelname aan die moordende Fauresmith uithourit oor 201km.

Vanjaar het dié uithourit in die Vrystaat deelnemers aan die bibber gehad met die kwik wat by tye tot -8ºC gedaal het en ‘n wind van tot 20km.

Ranald Vise, Sigrid Jefferies, Machel Greyling, Leana Erasmus en Lanel van Nieuwenhuizen was van die 385 ruiters wat ingeskryf het. Van dié syfer het 366 weggespring. Daar was toe reeds 19 perde afgekeur deur die veearts, aangesien die perde se gesondheid eerste in ag geneem word.

In totaal is 173 (43%) van die ruiters wat weggespring het oor die drie dae diskwalifiseer. Die 212 ruiters en hul perde wat die rit voltooi het, het ingesluit die vyf ruiters van Louis Trichardt.

Provinsiale spanne het teen mekaar deelgeneem. Lanel (15) is gekies vir die Noord-Gauteng span. Sy en haar perd, Shoraya Jafar het sewende geëindig in die junior afdeling. Hul totale tyd was 9 ure en 15 minute. Na die kompetisie het Lanel ook weggestap met die titel van bes-voorbereide perd. Jafar het ook die prys ingepalm vir die vinnigste suiwer Arabier in die juniorafdeling met ‘n gemiddelde spoed van 21,9km/h oor die drie dae.

Ranald en sy perd Arkab Zig-Zag was een van drie ruiters waarvan die perde toegelaat is om sonder hoefysters te ry. Die was die eerste keer in die geskiedenis van die wedren wat dit toegelaat is.

Ranald, Machel en haar perd Abla en Sigrid op Arkab Sputnik het besluit om saam te ry oor die drie dae. Hulle het die rit in 13 ure en 3 minute voltooi met ‘n gemiddelde spoed van 15,3km/h. Leana Erasmus en haar perd Diago het die rit in 16 ure en 32 minute voltooi. Dit was Leana, Ranald en Sigrid se eerste Fauresmith.

Uithouritte soos hierdie word geag die sportsoort wat die vinnigste groei in die wêreld. Dit is by uitstek ‘n familiesport en daar kan nie deelgeneem word sonder ‘n "groom" nie. Dié span ry vooruit per voertuig na die volgende punt waar die perd afgekoel moet word voordat dit deur die veearts ondersoek word. Die veearts besluit of die perd mag aangaan met die kompetisie.

Fauresmith word in ‘n klawervorm van drie bene oor die eerste twee dae en twee bene op die laaste dag aangebied. Elke deelnemer moet ‘n "groom" span hê.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines