

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 31 August 2007
Na ‘n seisoen vol ongelooflike suksesse, moes die eerste rugbyspan van Hoërskool Eric Louw, die Rooikatte, Saterdag, 25 Augustus, in die Beeld-trofee finaal die knie buig teen Hoërskool Balfour.
Beide spanne moes meeding teen ‘n baie sterk wind wat suksesvolle skopwerk bemoeilik het. Balfour teken in die eerste helfte ‘n drie aan, maar slaag nie daarin om dit te verdoel nie. Tinus Smit, die Rooikatte se losskakel, slaag met ‘n strafskop wat die halftydtelling op 5-3 te staan bring.
Aan die begin van die tweede helfte boer die Rooikatte in Balfour se kwartgebied, maar slaag nie daarin om punte aan te teken nie. Balfour onderskep ‘n bal en druk ‘n drie onder die pale, wat ook verdoel word. Na skitterende voorspel kry die Rooikatte kort daarna die oorhand en slaag Dahries Goosen met ‘n drie wat deur Tinus Smith verdoel word.
Twee verdere pogings om drieë aan te teken word verbrou en weens die sterk wind is twee strafskoppogings van die losskakel ook onsuksesvol. Die finaal eindig met 10-12 in Balfour se guns. BD Erasmus, die kaptein van die eerstespan, word aangewys as die beste speler van die Rooikatte.
In die semifinaal op Saterdag, 18 Augustus, het die Rooikatte teen Hoërskool Christiana uitgedraf en ‘n skitterende oorwinning van 17–10 behaal. Binne die eerste 10 minute van die spel het Tinus Smith sy span laat voorloop met ‘n suksesvolle strafskop. Kort voor halftyd druk Christiana ‘n drie wat verdoel word.
Na halftyd druk Dahries Goosen ‘n spogdrie wat die Rooikatte met 10–7 laat voorloop. Die Rooikatte maak ‘n onkant fout, wat Christiana nog drie punte besorg. Twee minute voor die eindfluitjie staan beide spanne nog gelykop. In die hitte van die stryd besef die Rooikatte dat hulle ‘n finale eindpoging moet aanwend om punte op die telbord te plaas en druk soos een man die span van Christiana van hul eie kwartlyn tot in die doelgebied van die Rooikatte. Die rooikop, Leon Scheepers, kry die bal en nael asof die duiwel hom haal en druk die wendrie. Tinus Smith verdoel, wat hulle die wentelling gee. Die twee puntemakers, Leon Scheepers en Dahries Goosen, word aangewys as die spelers van die wedstryd van die semifinaal.
Ongeag die byna 5 000km wat hierdie twee-en-twintigtal in die afgelope vier weke gereis het om in die kwart-, semifinaal en finaal te speel, het hulle Eric Louw se vlam hoog geblaas en hul afrigters, mnr. Giel van der Westhuizen (hoofafrigter), Hannes Koekemoer en Johnnie Cook (hulpafrigters), asook die borg, mnr. Pieter Koekemoer van Messina Superspar, se harte met trots gevul.

ADVERTISEMENT:
