ADVERTISEMENT:

 

Zantie Pöhl (regs) is tydens die Hanglip Hengelklub se prysuitdelingsfunksie die afgelope naweek aangewys as klubkampioen na afloop van die 2007 Andy’s Brandies Sondagliga. Saam met hom staan klubvoorsitter en hoofborg van Andy’s Brandies, Dirk van den Berg.

Zantie is Hanglip se top hengelaar in Sondagliga

 

Sport  Date: 23 November 2007

 

Die Hanglip Hengelklub het die afgelope naweek hul eerste jaar van bestaan op gesellige wyse afgesluit met ‘n sosiale hengel- en prysuitdelingsfunksie by die Albasinidam.

Tien ligabepalings is die afgelope jaar in die Andy’s Brandies Sondagliga beslis tussen die Hanglip Hengelklub van Louis Trichardt en die Flurian Hengelklub van LMB Makhado. Kompetisie was straf, maar op die einde het die twee klubs gelykop geëindig in die liga en deel die Andy’s Brandies-wisseltrofee. Voorsitter van Hanglip Dirk van den Berg het na die tyd opgemerk dat dit die klub baie goed gedoen het vir hul eerste jaar.

Wat individuele prestasies betref, het hengelaar Zantie Pöhl oortuigend as Hanglip se klubkampioen uit die stryd getree. Gedurende die jaar het hy konstant goed gehengel en altesaam 749 punte vergaar. In die tweede plek was voorsitter Dirk wat veral goed gehengel het die laaste paar ligabepalings. Hy samel 601 punte in. Derde was Andries van Zyl met 311.7 punte. Die Hanglip Hengelklub se junior kampioen was Dirkie van den Berg met 233.3 punte.

Die Hanglip Hengelklub beoog om volgende jaar by die provinsie te affilieer en op provinsiale vlak te kompeteer. Die klub het besluit om nie die eerste jaar te affilieer nie om aan lede die geleentheid te bied om hul standaard van hengel te verbeter. Die klub nooi alle geesdriftige hengelaars om by die klub betrokke te raak, veral vroue en juniors. Die nuwe ligabepalings vir 2008 sal so spoedig moontlik, in samewerking met Flurian, bepaal word.

Andries, as spankaptein, het na afloop van die prysuitdeling sy dank uitgespreek teenoor Andy’s Brandies vir hul borgskap van die liga asook die trofeë.

"Geld is maar altyd ‘n probleem en daarom kan ons dankbaar wees vir besighede wat nog steeds hul weg oopsien, nie net ten opsigte van finansiële steun nie, maar ook om hengel as sportsoort te bevorder," sê Andries.

Vir meer inligting oor die klub se aktiwiteite, skakel Andries by tel. 082 603 2419 of Dirk by 083 257 2929.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines