

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 16 May 2008
Die organiseerders van die Jacaranda 94.2 Catch-a-Million hengelkompetisie, met Solly’s Discount World van Louis Trichardt en Polokwane as borg, kan na afloop van ‘n baie suksesvolle naweek beslis hulself op die skouers klop.
Die kompetisie het alle verwagtinge oorskry met oor die 2 000 mense wat die naweek opgeruk het na die Forever Resort Loskopdam. Meer as 700 boot- en oewerhengelaars het ingeskryf.
Die kompetisie, waarin een gelukkige hengelaar die kans gestaan het om R1 miljoen te wen sou hy of sy die voorafgemerkte karp vang, is Saterdag, 10 Mei beslis. Selfs die hengelaars wat al 03:30 in die tou gaan staan het om betyds te wees vir die 05:00-opening van die hek na die oewer, het hulle agter ‘n ry voertuie van etlike honderde meter bevind. Daarna het almal geskarrel om ‘n stukkie hengelspasie te kry, terwyl meer as 145 bote gelanseer is.
Op die oewer het die manne (en vroue) letterlik bankvas gestaan. Vir een groep van vier hengelaars was daar maar net sowat 4m spasie vir agt visstokke, dit nogal nadat hulle vir amper ‘n halfuur in die donker moes sukkel om takke in die water en boompies en bosse op die oewer te verwyder.
Lyne in was 06:00 maar gou het dit duidelik geword dat hengel nie maklik gaan wees nie. Veral op die oewer het die hengelaars gesukkel met die meerderheid wat geen vis of eers ‘n byt gekry het nie.
Tog het die swak hengel nie die hengelaars se geesdrif gedemp nie. Die kompetisie is bemark as ‘n familienaweek wat dit ook was met baie van hulle wat ingeskryf het maar toe net lekker saam op die oewer kom kuier het.
Teen 15:00 was dit lyne-op en haastig het almal hul na die arena by Forever Resort Loskopdam gehaas om uit te vind of iemand darem daarin kon slaag om die R1 miljoen in die sak te steek. Dit het egter gou duidelik geword dat niemand die karpie kon haak nie en nog veilig in die dam, wat oor die 100% vol is, rondswem. Tog was daar darem ‘n paar hengelaars wat met die vyf R5 000 Skins-pryse asook R7 500 swaarste vis kategorieë weggestap het.
Dat die oewerhengelaars gesukkel het was ook duidelik tydens die prysuitdelingsfunksie met al die pryse vir vangste wat deur boothengelaars opgeraap is. In die Skins-kategorië was ‘n 7,4kg baber, 3,84kg karp, 1,96kg moddervis en 0,275kg kurper die wenners. Vis wat vir die Skins ingeweeg is, kon nie weer vir die swaarste vis kategorieë gewen word nie. Die swaarste moddervis het 2,53kg geweeg, terwyl die swaarste karp ingeweeg het op 4,82kg. Die swaarste kurper en baber se gewigte was onderskeidelik 1,11kg en 4,42kg.
Pryse in die vorm van elektroniese ware soos hoëtroustesels, skootrekenaars en tuisteaterstelle, alles geborg deur Solly’s Discount World, is ook toegeken vir onder meer die beste hengel familie, skoonste kamp en beste spangees.
Na die prysuitdelings kon besoekers lekker agteroor sit en ‘n lewendige konsert geniet tot laat nag toe met bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Pieter Koen en Shine 4.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
