ADVERTISEMENT:

 

Kremetartkoors loop reeds hoog

 

Sport  Date: 30 May 2008

 

Kremetartkoors loop reeds hoog in die dorp, met die sewentiende Kremetart Fietswedren net om die draai.

Volgende naweek sal om en by ‘n duisend fietsryers en hul gesinne hul in die Soutpansberg kom tuismaak om die gewilde fietswedren op 7 Junie aan te pak. Al die hotelle, gastehuise en ander beskikbare akkommodasie is reeds vol bespreek.

Die wedrenne wat aangedurf gaan word, is die strawwe 175km wat in vier skofte om die Soutpansberg gery word (ontbyt op Waterpoort, middagete op Vivo en ‘n laaste bene rek by Schoemansdal), die 70km wat ‘n sirkelroete is, en die 25km pretrit wat vanaf Schoemansdal tot in die dorp (oor Ottoshoogte) plaasvind. Vir kinders van twee tot elf jaar is daar die Kiddies Race wat Vrydagmiddag, 6 Junie, om 16:00 by die Makhado Crossing aangebied word. Registrasie vir al die wedrenne vind op 6 Junie vanaf 11:00 by Makhado Crossing plaas.

Wegspringtyd vir die 175km is Saterdagoggend 07:00 op die N1 oorkant Louis Trichardt Lodge vanwaar die fietsryers in ‘n noordelike rigting oor die Soutpansberg ry vir hul eerste skof na Waterpoort. Die eerste ryers op hierdie strawwe wedren behoort teen 16:15 aan die einde van hul vierde skof weer in die dorp te wees.

"Belangstellendes wat al die aksie op die eindstreep wil beleef, kan gerus die fietsryers op die N1 oorkant Makhado Crossing inwag of langs die pad in Rissikstraat staan om te sien hoe hulle vanaf Schoemansdal oor Ottoshoogte die dorp binnekom," sê die organiseerders.

Die 70km sirkelroete begin om 10:15 by die Inligtingsentrum en eindig ook daar, terwyl die 25km pretrit om 14:00 by Schoemansdal begin.

Daar sal vir die hele Saterdag pret, aksie en stalletjies met eetgoed en ander ware by die Inligtingsentrum wees. Instansies of persone wat graag nog stalletjies wil bekom, het ‘n laaste kans om dit te doen.

Dit is belangrik om daarop te let dat Songozwistraat tussen Groblerstraat en die N1 vanaf Saterdag 07:00 vir die hele duur van die fietswedren gesluit sal wees.

Die prysuitdeling vir die 175km Kremetart vind die aand om 19:00 by die Inligtingsentrum plaas, waar daar ‘n bosveldpotjie vir al die deelnemende fietsryers sal wees. Adam Tas sal tussendeur en ná die prysuitdeling optree en toegang tot sy vertoning is gratis.

"Kom maak gerus ‘n draai by die Kremetart en word deel van hierdie groot gebeurtenis in ons dorp!" nooi die organiseerders. Diegene wat stalletjies wil bespreek, kan Brian du Plooy skakel by 082 821 0075.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines