ADVERTISEMENT:

 

Limpopo se doelwagter, Cecilia Williams van Louis Trichardt, keer nóg ‘n doel. Paulien Lourens is by om te help. Foto: Irma Roos.

Limpopo se vroue-hokkiespan wys hul staal

 

Sport  Date: 18 July 2008

 

Die Limpopo vroue-hokkiespan, bestaande uit spelers van Phalaborwa, Tzaneen en Louis Trichardt, het by die onlangse Suid Afrikaanse Buitedistrik (South African Country District) toernooi in Witrivier gewys dat Limpopo ‘n provinsie is waarmee rekening gehou moet word. Sewe spanne, waaronder KwaZulu-Natal, Gauteng-Noord, Noordwes, Mpumalanga en KZN Binneland, het aan hierdie uitmergelende toernooi oor ses dae by Uplands College deelgeneem.

Alhoewel Limpopo ‘n algehele sesde plek behaal het, het die vroue verskeie van die top spanne harde bene laat kou. In die eerste wedstryd, op Sondag 29 Junie, moes die span van KwaZulu-Natal hard werk vir hul oorwinning, maar staan in die proses drie doele af teen ‘n vurige Limpopospan. In ‘n taai wedstryd teen Gauteng-Noord moes Limpopo die aftog blaas met ‘n telling van 3-2, ná ‘n verbete terugvegpoging laat in die tweede helfte deur die span van Pretoria.

Hierna verloor Limpopo teen die kampioene, KZN Binneland A, asook Noordwes en Mpumalanga, maar wen hul wedstryd teen KZN Binneland B, om sodoende ‘n uitspeel wedstryd vir vyfde plek teen Mpumalanga te verseker.

In ‘n wedstryd wat beide spanne bitter graag wou wen, is dit Limpopo wat eerste, vroeg in die tweede helfte, ‘n doel aanteken. Mpumalanga veg verbete terug en laat in die wedstryd teken hulle die gelykmaker aan, waarna hul volgehoue druk toepas op Limpopo. Kort voor die eindfluitjie blaas, teken Mpumalanga die wendoel aan en ná ‘n skitterende wedstryd is dit Limpopo wat sesde in die toernooi eindig met Mpumalanga in die vyfde plek. Noordwes wen teen Gauteng-Noord om die derde plek in te neem, terwyl die span van KZN Binneland A triomfeer oor Kwazulu Natal om weereens as kampioen gekroon te word.

Vir ‘n span wat slegs twee weke voor die toernooi gekies is, sê die bestuur baie geluk aan Paulien Lourens, Claire Joubert, Marcé Grieve, Sonja le Roux, Maryna du Toit, Chantel Ferreira, Anika du Toit, Hettie Trollip, Nikki Janse van Rensburg, Anri Lochner, Marlize Nortjé, Cecilia Williams en Sasha Drewett.

Die span bedank ook graag hul borge, naamlik Daniël Dikana van Lesedi Drilling, Bryan Smith van LA Crushers, Juan de Klerk van Klevan Mining, Ian Klynsmith van Pick ‘n Pay Phalaborwa, Ben en Susan Andjelkovic, Freddies Minerals en alle vriende, familie en kollegas wat lotery kaartjies gekoop het ter ondersteuning van die hokkie. Dank is ook uitgespreek teenoor Leo Bargiacchi van Bodgies Sports vir al die moeite met die span se uitrustings.

Volgende jaar se toernooi vind plaas in Bloemfontein en die vroue is vasbeslote om een van die boonste drie plekke in te neem.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines