

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 22 August 2008
Twee van die dorp se fietsryers het die afgelope naweek die moordende Trans-Baviaans Bergfietswedren tussen Willowmore en Jeffreysbaai voltooi. Cassie Mattheus en Casper Venter het hulle staal gewys deur 76ste uit 200 spanne klaar te maak.
Die wedren van 230 km, wat oor 24 uur voltooi word, begin om 10:00 en eindig om 10:00 die volgende dag. Sowat 500 persone het aan die wedren deelgeneem in spanne van tussen twee en vier persone om hierdie langste eendag skof in die wêreld te voltooi. Die voorwaarde is dat al die spanlede die wedren moet voltooi en almal moet by ‘n verskeidenheid kontrolepunte aandoen, waar hulle ‘n bewys kry wat hulle aan die einde van die wedren moet indien. Hulp kan slegs by spesifieke punte verleen word, maar deelnemers is vry om so lank as hulle wil by elke punt te vertoef en te eet of te rus. Deelnemers wat die reëls oortree boet tyd in. Weens die formaat van die wedren moet deelnemers uit die aard van die saak in die nag ook ry, wat besondere eise aan hulle stel.
Volgens Casper was dit Sondagoggend bitter koud en hulle het omtrent al die klere wat hulle kon, aangetrek. Ondanks die koue en uitputting het hulle die wedren voltooi in ‘n tyd van 15 uur en 45 minute. Die professionele manne ry dit in sowat 10 ure. Casper en Cassie het vir Sarah en Noenie bedank vir hulle bystand en ondersteuning tydens die wedren. Sonder dié twee sou hulle nie die mas opgekom het nie.
ADVERTISEMENT:
