ADVERTISEMENT:

 

Rugbyfinaal eindig op omstrede wyse

 

Sport  Date: 29 August 2008

 

Te midde van kontroversie brand die vreugdevure hoog in Musina, nadat die MAC Messina Rugbyklub as algehele wenners van al drie die provinsie se Boet Fick-rugbyligas uit die stryd tree.

MAC Messina het Saterdag, 23 Augustus, op hul tuisveld in die finaal van die provinsiale Boet Fick-liga te staan gekom teen die eerste-, tweede- en derdespanne van Pietersburg Dorp.

Nadat MAC Messina se eerstes aanvanklik hul strawwe kragmeting teen Pietersburg 22-20 verloor, lig hulle steeds die Boet Fick-trofee as eersteliga wenners omhoog. Dit volg nadat Pietersburg Dorp se eerstes na afloop van die wedstryd gediskwalifiseer is vanweë ondermeer beweerde onreëlmatighede ten opsigte van die registrasie van spelers. Na wat verneem word het Pietersburg Dorp twee spelers van Tukkies in die span gehad en volgens die provinsiale grondwet mag geen speler gelyktydig by twee rugby-unies geregistreer wees nie.

MAC Messina se derdes tree ook as provinsiale wenners uit die stryd in die derdeliga. Hulle het aanvanklik in die semifinaal uitgeval, met Pietersburg Dorp en Noordelikes se derdes wat deurdring na die finaal. Soortgelyk aan Saterdag se petalje, word Pietersburg Dorp se derdes egter na die semifinale wedstryd gediskwalifiseer, ook weens beweerde onreëlmatighede ten opsigte van die registrasie van spelers. Sodoende dring MAC Messina se derdes deur na die finaal en klop hulle Saterdag die span van Noordelikes 36-24.

Daar was geen sprake van diskwalifikasie van spanne in die finaal van die provinsiale tweedeliga nie, maar dit wil nie sê dat hierdie wedstryd tussen MAC Messina/Levubu en Pietersburg Dorp se tweedes nie sonder sy kwota drama was nie. Teen halftyd het Peietersburg Dorp reeds 20 punte op die telbord gehad, met MAC Messina/Levubu wat nog geen punte kon aanteken nie. Laasgenoemde het egter verbete teruggeveg in die tweede helfte. Met twee minute speeltyd oor het Pietersburg Dorp oor die doellyn gebars vir ‘n drie, maar die drie is nie toegeken nie. Dit nadat een van die lynregters uitgewys het dat een van Pietersburg Dorp se spelers  ‘n hanteerfout gemaak het het tydens ‘n losgemaal. Oomblikke later het die eindfluitjie geblaas, met MAC Messina/Levubu was met 26 punte teenoor 23 as wenners van die Boet Fick-tweedeliga uit die stryd tree.

Me. Joan du Toit van die Blou Bulle Rugby-unie se kantoor in Polokwane het by navraag Dinsdag bevestig dat Pietersburg Dorp se eerste- en derdespanne gediskwalifiseer is.

“Mens moet egter versigtig wees om uitlatings te maak oor die diskwalifikasie van die twee spanne, aangesien die ondersoek nog aan die gang is,” het Du Toit gesê. Na wat verneem word, betwis Pietersburg Dorp in hierdie stadium nie die diskwalifikasies nie, hangende die uitslag van die rugby-unie se ondersoek.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines