

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 21 November 2008
Heelwat fietsryers van Louis Trichardt het die afgelope naweek die beenspiere gaan oefen tydens hul deelname aan die jaarlikse 94.7 Fietswedren in Johannesburg.
‘n Groep kinders en volwassenes van die twee plaaslike NG-gemeentes, wat in Desember aan ‘n uitreikaksie by Glenmore gaan deelneem, het as ‘n groep gaan ry om sodoende geld in te samel vir hul uitreik-aksie.
Die kinders wat die lang pad aangedurf het en almal die hele 94.7km voltooi het, was Henri Boshoff, Jandré van Jaarsveld, Hylke Coetzee, Evert Joubert, Theuns Fraser, Dylan du Toit, Carina Joubert en Jaco de Bruin. Hulle is vergesel deur die jeugleiers, ds. André Botha, Chris Breytenbach en Cato de Bruin. Hulle het hul dank uitgespreek teenoor almal wat hulle geborg het en steeds donasies gaan maak ten bate van hul uitreik.
Heelwat fietsryers van die P&L Fietsryklub het ook deelneem. Toestande was baie gunstig op die dag en die reën het die meeste ryers kans gegee om dwarsdeur die wedren droog te bly. Behalwe vir een dame wat weens tegniese probleme met haar fiets nie die wedren kon voltooi nie, het die meeste ryers beter tye as in die verlede opgestel.
Henri Boshoff, wat saam met die uitreikgroep gaan deelneem het, het ‘n baie goeie tyd van twee uur 41 minute opgestel. Die ander twee manne in die klub wat albei ‘n tyd onder drie ure kon ry, was Marius Smit (twee uur 46 minute) en Carel Kilian (twee uur 49 minute).
Ander ryers wat gaan deelneem het en almal die afstand voltooi het, was Ilze Coetzee, Brian en Eldine Peli, Jan Brink, Daan en Berdine Pretorius, Bandish Patel, Major Patel, Bupesh Patel, Davendra Patel en Jaco en Mariaan Oberholzer.

ADVERTISEMENT:
