ADVERTISEMENT:

 

Willie Knoetze (links) het die R5 000 pryseld in sy sak gesteek met sy kurper van 1,444kg. Regs staan Jenny van den Heever, wat die oorhandiging waargeneem het. In die middel is Willie se hengelmaat, André Breed.

Willie se vangs besorg hom R5 000 in die sak

 

Sport  Date: 06 March 2009

 

Dit was duidelik dat die streek se hengelaars uitgehonger was vir bietjie lekker visvang. Reeds van vroeg af het die manne (en vroue) grootgepraat oor hul verwagte vangste vir die dag tydens Saterdag, 28 Februarie se Fish Eagle Caravan and Camping hengelkompetisie by die Nandonidam.

Vir baie was dit ‘n eerste besoek aan dié hengeloord en dam en na afloop van die kompetisie het menige hengelaar gemeen die oord en dam sal hulle gou weer sien.

Altesaam 147 hengelaars het aan die kompetisie deelgeneem, hoofsaaklik boothengelaars, met pryse wat toegeken is vir die swaarte kurper en swartbaars in onderskeidelik ‘n mans-, junior- en vroue-afdeling. ‘n Paar mooi visse het die dag uitgekom, alhoewel ietwat aan die klein kant. Nandoni is reeds daarvoor bekend dat daar ‘n paar monsters te vang is.

Daar is hard gehengel die dag, maar ten spyte van baie se goeie vangste, kon daar net een wenner in elke afdeling wees.

Die top prys van die dag vir die swaarste kurper tydens die kompetisie, het gegaan aan ‘n verheugde Willie Knoetze. Sy kurper van 1,444kg het hom R5 000 in die sak besorg.

In die afdeling vir swartbaars het die junior prys gegaan aan jong Dylan Wright met sy vangs van 1,910kg. Eerste in die vroue-afdeling was Liza Wright met haar vangs van 1,360kg, terwyl die mansafdeling ingepalm is deur Dean Fowler met ‘n 1,4kg baars.

In die afdeling vir swaarste kurper was die junior wenner Zian van der Merwe met ‘n 1,026kg kurper. Lynne Murray was die vroue-afdeling wenner met haar vangs van 1,096kg kurper en Sean Waller eerste in die mans-afdeling met sy kurper van 1,280kg.

Die R5 000 prysgeld is geborg deur die oord self, terwyl die ander pryse geborg is deur Cycle Centre op Louis Trichardt. Laasgenoemde se borgskap het onder meer ingesluit baars- en kurper-vistokstelle vir die onderskeie afdelingwenners.

Die kompetisie is aangebied ter fondsinsameling van die Fish Eagle Caravan and Camping hengeloord. Die geld sal aangewend word vir die aanbou van addisionele ablusiegeriewe. Daar is reeds bestaande ablusiegeriewe, asook storte, met netjiese en veilige kampeerplek vir tente en karavane. Gedurende die aand is die kamparea verlig, asook die ablusiegeriewe. Die oord is ook reeds in die proses om kragpunte na die kampeerplekke aan te lê. Vir meer inligting oor die oord, skakel Ronel by tel. 083 276 1070.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines