ADVERTISEMENT:

 

Nog 'n SA-rekord vir Marli

 

Sport  Date: 09 April 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Top atleet Marli Knoetze het Saterdag (3de) in Bloemfontein tydens die ASA-kampioenskappe die skitterende afstand van 51,63m in die diskus behaal en daarmee die Suid-Afrikaanse 0/18-rekord verpletter.

Op Vrydag (2de) het Marli tweede in die gewigstoot geëindig. Dit was 'n teleurstelling vir haar, maar haar pa, Willie Knoetze, sê dat sy dit met 'n glimlag agter haar geplaas het. Die volgende dag het Marli almal verbyster met haar fenomenale gooi van meer as 50 meter. Dit is die eerste keer dat Marli die 50-meter kerf verbysteek.

Die 16-jarige Marli het nie net die 0/18-rekord verpletter nie, maar haar afstand van 51,63 is net 29cm van die Suid-Afrikaanse 0/20-rekord af.

Marli het al drie keer hierdie seisoen verder as die nasionale 0/18-rekord gegooi; twee keer op Musina en een keer in Polokwane. Daar was elke keer 'n probleem met die erkenning van die rekord. In Polokwane was die probleem dat toetse vir verbode middels nie beskikbaar was nie.

Marli se amptelike SA-rekord die afgelope naweek volg kort op die hakke van die USSASA nasionale skole kampioenskappe op 26 Maart in Germiston, waar Marli aangewys is as die Beste Veldatleet van die Byeenkoms. Sy het goue medaljes vir beide diskus en gewigstoot huis toe gebring.

Volgende week, op 16 en 17 April, neem Marli deel aan die SA Senior Kampioenskappe in Durban. Daarna volg internasionale byeenkomste: COSSASA in Afrika, die Wêreld Junior Kampioenskappe vir die 0/20 ouderdomsgroepe vanaf 13 tot 18 Julie in Grosseto, Italië, en die die Statebond Jeugspele van 28 November tot 3 Desember in Australië.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines