

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 22 May 2009
Die nasionale jongruiter uithourit-span wat gekies is om Suid-Afrika te verteenwoordig tydens die Wêrelduithourit Kampioenskappe in September vanjaar, het uitstekend gevaar tydens ´n oefenrit in Hongarye op Saterdag 2 Mei.
Die span bestaan uit Lanel van Nieuwenhuizen (Louis Trichardt), Nicola Coetzee (Randfontein), Frik Basson en jonger broer Johann Basson (Bethlehem), GD Kotze (Belfast), Tommy van Niekerk (Daniëlskuil) en reserwes Lutri Pieters (Balmoral) en Lesleigh Rous (Colesberg).
Ter voorbereiding vir die Wêreld Kampioenskappe het vyf van die ruiters, asook die twee reserwes, aan ´n belangrike voorrit in Babolna, Hongarye, gaan deelneem. Dié oefening gee aan ruiters die kans om hul gehuurde perde vanaf Frankryk beter te leer ken. Nie net het hulle die geleentheid gehad om voor te berei vir die 120km-rit op die spesifieke perde nie, maar kon hulle ook vertroud raak met die roete en baan.
Onder die bekwame leiding van hul spanbestuurder, dr. Henk Basson, en die spanveearts, dr. Marc Walton, het hul uitstekende resultate behaal. Dit is die beste wat Suid-Afrikaanse ruiters nog oorsee gevaar het met vreemde, gehuurde perde.
Vyf van SA se ruiters kon die gesogte ‘Top 10’ posisies behaal, met Lanel tweede oor die eindstreep in ‘n tyd van 07:20, terwyl die ander ruiters sowat 17 minute agter Lanel en sekondes uitmekaar die roete voltooi het.
‘n Opgewonde en tevrede span het op 4 Mei teruggekeer na SA vanwaar hul in oefening sal bly vir die groot kampioenskap.

ADVERTISEMENT:
