ADVERTISEMENT:

 

Na agt ure se pyn spog Susan met swart gordel

 

Sport  Date: 12 December 2003

 

MAKHADO LOUIS TRICHARDT) – Susan Botha het die afgelope naweek die aandag van die top IKKO karatekas getrek toe sy in 'n moordende agt-uur-lange gradering in Johannesburg haar eerste swart gordel (senior Shodan) verwerf het.

Susan (18) het met stukkende kneukels, 'n moontlike stresfraktuur in die handbene en blase op elke toon en voetsool uit die stryd getree.

"Dit was baie senutergend, beide fisies en sielkundig," sê Susan.

Dit was egter alles die moeite werd, want op 6 Desember het Susan die gesogte volwasse swart belt verwerf by die jaarlikse Shitoryu Swart Gordel Gradering. Daarmee kwalifiseer sy ook as instrukteur.

Susan is saam met agt ander gegradeer deur 'n paneel bestaande uit die stylhoof van Shitoryu en die Suid-Afrikaanse hoof van die WKC (World Karate Confederation), Imtiaz Abdullah, saam met 'n sesde dan en twee vyfde dan Shitoryu's. Net vyf van die nege kandidate het die gradering geslaag.

Imtiaz Abdullah van IKKO (International Kenshi Kai Kuniba Kai Karate Kobudo Organisation) ken elke kata en beweging van elke styl en hy het Susan op haar styl, Shukokai, gegradeer. Daar was twee kandidate van Shukokai, een van die JKA styl en ses van Shutoryu.

Susan sê dat sy haar prestasie te danke het aan Sensei Jannie van Zyl wat haar elf jaar lank afgerig het, asook sensei De Wet van Wyk.

IKKO beplan om volgende jaar 'n klub by die Universiteit van Stellenbosch oop te maak en hulle het reeds vir Susan genader om daar te help as instrukteur. Susan beplan om 'n B-graad in drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer.

Op Maandag (8ste) het Imtiaz Abdullah in 'n telefoniese onderhoud gesê dat Susan hulle beïndruk het met haar toegewydheid, deursettingsvermoë, begeerte om uit te blink, en ondersoekende gees.

"Veral as dame het sy beïndruk met haar moed en die feit dat sy nie stuit teen rowwe behandeling nie." Laasgenoemde het waarskynlik verwys na Susan se reaksie tydens die gradering toe drie manlike aanvallers teen haar gesit is.

Nog iets wat Susan aangespoor het, was die feit dat sy na die gradering haar pa, Fritz Botha, se unieke swart belt van Japannese sy en goue borduursel sou kon dra. Fritz het dié belt in 1976 in Namibië vir judo ontvang van 'n Japannees wat die gradering kom doen het en dié spesiale belt uit Japan saamgebring het.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines