ADVERTISEMENT:

 

Marli is USSASA se top-atleet

 

Sport  Date: 02 April 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Plaaslike atletiekster, Marli Knoetze, het uitgeblink by die USSASA nasionale skole atletiekkampioenskappe deur met twee goue medaljes en 'n trofee vir die Beste Veldatleet van die Byeenkoms huis toe te kom.

Die USSASA (United School Sport Association of South Africa) atletiekkampioenskappe het op 26 Maart by die Herman Immelmanstadium op Germiston plaasgevind. In die dogters O/17-ouderdomsgroep het Marli goud behaal met gooie van 45,39m in die diskus en 15,09m in die gewigstoot behaal. Sy was veral verheug oor haar gewigstoot afstand.

'n Stywe program lê vanjaar vir Marli voor, met die IAAF Wêreld Junior Kampioenskappe in Grosseto, Italië - een van die kampioenskappe waarna Marli die meeste uitsien.

Die Wêreld Junior Kampioenskappe, vir die O/20-ouderdomsgroepe, word tweejaarliks aangebied en vind vanaf 13 tot 18 Julie plaas. Marli sal in die O/19-ouderdomsgroep deelneem. Die kwalifiserende afstand vir die diskus is 47m en Marli het reeds agt keer gekwalifiseer. Vir die gewigstoot is die kwalifiserende afstand 14,50m wat sy reeds sewe keer behaal het.

Voor Italië is daar eers ASA (Atletiek Suid-Afrika) se O/17-kampioenskappe op 2 April in Bloemfontein en die SA Senior Kampioenskappe op 16 en 17 April in Durban. Dan is Marli ook gekies vir die COSSASA-atletiekspan wat in Afrika gaan deelneem, waarskynlik in Junie. Teen die einde van die jaar is daar ook die Statebond Jeugspele in Australië van 28 November tot 3 Desember.

Die langtermyndoelwit van Marli se afrigting is eintlik 2006 se IAAF Wêreld Junior Kampioenskappe, wanneer Marli negentien sal word en teen deelnemers van haar eie ouderdom sal deelneem.

Marli vind ook baat by die nuwe IAAF reël dat die afrigter tydens deelname met die atleet mag kommunikeer. Van haar afrigter, die bekende mnr. Robbie Robberts, sê Marli: "Dis die beste afrigter wat daar is. Hy is my atletiekpa. Hy maak dat ek dit geniet en dat dit nie net werk is nie."

Speletjies is dit beslis nie as na Marli se stywe oefenprogram gekyk word. Sy oefen elke weeksdag, met 'n totaal van sowat twaalf ure per week. Tegniek ontvang die hoofklem, maar gimnasiumwerk en hardloop is ook ingesluit.

Naweke wanneer daar nie byeenkomste is nie, is dit tyd vir skoolwerk inhaal. Marli is 'n Graad 11-leerling van Hoërskool Louis Trichardt. Dit beteken vir haar baie om 'n SMS van die hoof of personeellede te kry wanneer sy hard gewerk en goed presteer het.

Marli se ouers ondersteun haar een honderd persent. Haar vader, mnr. Willie Knoetze, het na USSASA gesê dat Marli nie net vir haarself presteer nie, maar veral vir haar skool en gemeenskap.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines