ADVERTISEMENT:

 

Die 15-jarige Rülke Pieterse (voor) het rede om so breed te glimlag, nadat hy die R5 000-prysgeld vir die swaarste swartbaars opgeraap het tydens die Nandoni Kurper Classic. Agter hom, van links, staan Stefan Badenhorst (tweede), Boet Groenewald (hoof van die CVO-skool Zoutpansberg), Flippie Greyling (derde) en dr. Fred Badenhorst (namens die Zoutpansberg Privaathospitaal as borg van die prysgeld).

Vasbyt-hengel tydens Nandoni Kruper Classic

 

Sport  Date: 26 February 2010

 

Sowat 150 vasberade hengelaars het Saterdag, 20 Februarie hul lyne gaan natmaak tydens die tweede Nandoni Kurper Classic ten bate van die CVO-skool Zoutpansberg op Louis Trichardt.

Dit was egter nie net die lyne wat nat geword het nie. Hengelaars moes vir die eerste paar uur van die kompetisie swaar reënneerslae, wat gepaardgegaan het met ‘n ysige sterk wind, trotseer. Derhalwe het ‘n deurweekte hengelaar opgemerk dat die organiseerders ook ‘n prys vir Bittereinder van die Dag moes toeken.

Maar die koue en nat weer was nie genoeg om die hengelaars se geesdrif te demp nie en daar is met mening gehengel. Vangste was egter in die algemeen maar aan die klein kant, met kurper se kind wat sy lyf skaars gehou het. Tog het daar ‘n paar mooi visse uit die water gekom.

In die mans-afdeling was dit Eugene van den Heever wat met die louere wegstap met sy kurper van 1,395kg. Pieter Cronjé was kort op sy hake in die tweede plek met ‘n kurper van 1,310kg, met Fritz Ahrens derde met sy kurper van 1,280kg. Die vroue-afdeling is gewen deur Cornel Dercksen met haar kurper van 0,785kg. Wat die juniors betref, palm Christiaan Barnard ‘n eerste plek in met sy kurper van 1,355kg. Gilbert Gerhardt was tweede met sy 1,125kg kurper en Gerhard van Graan derde met sy kurper van 1,095kg.

Buiten vir die puik prysgeld en pryse in die kuper-afdeling, was daar ook R5 000 op die spel vir die hengelaar wat die grootste swartbaars van die dag sou land. Aanvanklik sou daar net ‘n eerste prys wees, maar weens die belangstelling wat die baars-kompetisie ontlok het, is daar besluit om ook in hierdie afdeling ‘n tweede en derde prys toe te ken.

Groot was almal se verbasing toe die 15-jarige Rülke Pieterse die R5 000-prysgeld voor almal se neuse opraap met sy baars wat ingeweeg het op 2,490kg. Stefan Badenhorst was tweede met sy baars van 2,460kg en Flippie Greyling derde met sy 2,370kg baars.

Die hoofborg van die dag was Werda Motors, met die Zoutpansberg Privaathospitaal wat die R5 000-prysgeld in die swartbaarskompetisie geborg het. Die inweeg is behartig deur Brilliant Bass van Polokwane, wat ook die verhoog en klanktoerusting vir die dag verskaf het. Die Fish Eagle Caravan & Camping-hengeloord het weer as gasheer vir die kompetisie opgetree.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines