ADVERTISEMENT:

 

Pa-en-seunspan Peter (links) en Quentin Thompson (regs) by hul Golf I en II. Quentin is tans bo aan die punteleer van die Goldwagen VW Challenge, met sy pa in die vierde posisie. 

Thompson-twee jaag renbane aan die brand

 

Sport  Date: 07 May 2010

 

Pa-en-seun renjaers Peter en Quentin Thompson van Louis Trichardt is behoorlik op spoed en het al verskeie bane aan die brand gery in die Goldwagen VW Challenge-wedren.

Tydens die opening van die Goldwagen-kompetisie het Peter wedrengeskiedenis herskryf, toe hy die oudste persoon geword om ‘n Goldwagen wedren te wen. Op 64-jarige ouderdom het hy eerste oor die wenstreep gejaag by die Oos-London Grand Prix Baan en die meer as 40 ander (veel jonger deelnemers) stof laat eet. 

Tydens hierdie wedren het talle se oë gerek toe Quentin se Golf II, langs sy pa se Golf I, in die voorste ry weggespring het vir die eerste rondte van die wedren.

Peter se opspraakwekende oorwinning en Quentin se welverdiende vierde plek het baie mense verbaas.

“Hier in Louis Trichardt is daar nie bane waar ons kan oefen nie, en ons oefen gewoonlik net vóór ‘n wedren,” het Peter verduidelik.

“Dit is nie net talent nie,” het Quentin sy pa se woorde beaam, “dit is harde werk om eerste oor die wenstreep te kan jaag.”

In Maart is die bordjies egter verhang tydens die tweede wedren van die Goldwagen Challenge. Quentin het ‘n naelskraap oorwinning behaal, met sy pa kort op die voorlopers se hakke. Hy het net-net derde oor die wenstreep gejaag.

Met die derde wedren het Quentin met sy dubbele oorwinning verseker dat sy voorsprong gerek het, sodat hy  tans drie plekke bo sy pa, aan die toppunt van die punteleer, staan.

Verlede week het Peter vertel dat hy al reeds in 1972 begin deelneem het aan motorwedrenne. In 1973 het hy die destydse Transvaalse Groep 1-beker gewen in sy Mazda Rotary.

“Daardie jare was die kompetisie nogals moeilik; mens was nie toegelaat om jou motor “warm” te maak soos nou nie,” sê Peter.

Die sport kan ook gevaarlik raak. Tydens een van die wedrenne het die rempype van Peter se Golf gebars. Dit het gelei tot ´n hoë-spoed botsing.

"Teen 200 plus kilometers per uur vat jy maar die stamp so lig as moontlik,” het Peter skertsend opgemerk.

Die volgende byeenkoms sal by die Phakisabaan in Welkom later vandeesmaand beslis word.

“Daar is nog ses byeenkomste vir die res van die jaar en enige iets is nog moontlik,” het Quentin gesê.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines