

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 21 May 2010
Die belewenis om deel te neem aan die SpecSavers Ysterman Suid-Afrika, uitsonderlik gereël en van hoogstaande gehalte, sal die drie Ystermanne van die Soutpansberg vir altyd bybly.
Een van die drie, Ferreira Nel, meen dit was moontlik sy eerste en laaste volle Ysterman-kompetisie, omdat die voorbereiding soveel tyd in beslag neem.
“Dit was ‘n wonderlike ervaring om as normale werkende mens deel te neem aan so ‘n uitsonderlike byeenkoms en om terselfdertyd al die professionele en wêreldklasatlete in aksie te sien. Dit was ‘n groot hoogtepunt na maande se voorbereiding en harde werk. Ons ken behoorlik die Soutpansberg-omgewing hierna, veral die paaie en Theo Schlieben se dam vir die swem,” sê Ferreira.
Die kompetisie het bestaan uit 3,8km swem in ‘n uiters ontstuimige see, 180km fietsry en 42km se hardloop.
Noenie Mattheus vertel dat sy twee maal seesiek geword het in die rowwe see en dat die dag voor die kompetisie ‘n persoon verdrink het tydens oefening. Die Ysterman-ervaring in die geheel was vir haar ook wonderlik.
“Die mense se ondersteuning is ongelooflik, hulle staan bankvas langs die pad tot die aand. Ek is bly ek het dit aangepak en ... ja, ek sal dit weer doen,” sê Noenie.
In haar kategorie (vroue 40 tot 45 jaar) het Noenie 8ste met die hardloop geëindig deur die 42km in 4:16 te voltooi. Daar het 60 vroue in die kategorie ingeskryf , waarvan 48 klaargemaak het. Noenie het met haar tyd van 13:03 ure ‘n 16de plek uit die 48 in die kategorie ingepalm. Algeheel was Noenie 108ste uit al die vroue en 827ste uit al die deelnemers.
Daar het 1860 atlete met die Ysterman begin en 1550 het klaargemaak. Die Ysterman Suid-Afrika is op 25 April in Port Elizabeth in Nelson Mandelabaai aangebied. Atlete het 17uur om die afstand te voltooi vanaf 07:00 tot middernag. Na elke item is daar afsnytye en atlete wat dit nie haal nie, word onttrek.
Ferreira Nel het die driekamp in 13 uur 20 minute voltooi en Craig Whitcomb in 15 uur 20 minute.
Craig sê dat dit ‘n hoogtepunt was toe die swem klaar was. Die fietsryroete was vir lang tye langs die see met ‘n baie mooi uitsig. Die fietsryers moes drie rondtes van 60km elk ry.
“Aan die einde hardloop jy op ‘n rooi mat in en word soos ‘n koninklike behandel. Nou geniet ek eers my rus en sal nog besluit of ek weer gaan deelneem. As ek dit weer doen, sal ek ten opsigte van oefening en fondse beter beplan,” sê Craig.
Al drie die plaaslike helde sê baie dankie aan al die mense wat belang gestel het en hulle op soveel maniere ondersteun het.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
