ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Louis Linde en me. Reneé Hamman dra die geel Triegie banier oor die wenstreep by die Comrades Marathon op 30 Mei. Die voltooiingstyd was 10:42:22. Foto verskaf.

Skoolhoof se Comrades-poging in duisende

 

Sport  Date: 11 June 2010

 

So saam met die Comrades Ultramarathon het Laerskool Louis Trichardt die mooi bedrag van R48 000 ingesamel vir die voltooiing van die Bergvliet Sportkompleks se klubhuis.

Presies 10 ure 42 minute en 22 sekondes na die wegspring, het mnr. Louis Linde en me. Reneé Hamman die geel Triegie banier oor die wenstreep gedra. Die gemeenskap het die fondsinsameling goed ondersteun deur te borg en te raai wat mnr. Linde se voltooiingstyd sal wees.

Louis en Reneé van die skool en vier ouers, Ferreira Nel, Stanley Thompson, Christo Markram en Elmien van der Goot, het saam die Comrades aangepak en daarmee fondse vir die sportkompleks ingesamel. Indien die hoof nie die Comrades sou voltooi nie, sou die voltooiingstyd van die beste van die ander vyf geneem word.

“By die halfpadmerk, met nog so 40 tot 50 km oor, het ek baie moeg geword. Ek het getwyfel of ek die 90km gaan maak. Vir daardie laaste gedeelte vra ‘n mens net krag van jou Hemelse Vader om dit te kan voltooi,” het Louis gesê. By die halfpadmerk het dit baie gehelp dat hulle ondersteuners reggestaan om die energie aan te vul. “Dit het my ook gemotiveer dat al die Triegies sit en wag en soveel mense het ondersteun, aangemoedig en gebid. Met daardie gebede en uithou en deurdruk, het ek dit voltooi.”

Louis sê verder dat die laaste 30km met die afdraendes die lekkerste gedeelte van die wedloop was en dat hulle mekaar goed gemotiveer het.

“Ons het sterk geëindig,” sê Louis.

Louis en Reneé se posisies was 7494 en 7495. Daar het sowat 20 000 atlete begin en 15 000 het die marathon voltooi. Louis was 866ste in die kategorie vir meesters, van 50 tot 59 jaar. Nog ‘n oogmerk van die skoolgroep wat deelgeneem het, was om die kinders van die skool aan te moedig om fiks en gesond te lewe. Almal in die groep het hul brons medaljes huis toe gebring en almal is ook lede van die Soutpansberg Atletiekklub.

Die skool bedank die gemeenskap en besighede vir hul puik ondersteuning van die projek. ‘n Spesiale woord van dank word aan mnr. Hennie Erwee van Erwee Prokureurs in Musina gerig vir ‘n donasie van R5 000. Die borge word van harte bedank. Hulle is mnr.Lambert Fick wat die jagprys geborg het, Rubicon Konstruksies vir die logistiek (reisonkostes), die Zoutpansberger vir advertensies en Kirsten Drukkers vir die druk van die borglyste.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines