ADVERTISEMENT:

 

Dawid Kleynhans (links), ‘n besoeker van Klerksdorp, het die naweek as algehele wenner van die Soutpansberg Gholfklub se gewilde Hanglip 54-toernooi uit die stryd getree. Saam met hom staan Soutpansberg klubkaptein Marius Mostert.

Besoeker palm jaarlikse Hanglip 54-toernooi in

 

Sport  Date: 16 July 2010

 

‘n Besoeker van Klerksdorp, Dawid Kleynhans, het Saterdag weggestap met die gesogte Hanglip 54-trofee.

Die Hanglip 54-toernooi, wat deur die Soutpansberg Gholfklub aangebied word, word as een van die top provinsiale gholftoernooie beskou en lok spelers vanoor die hele land. Die toernooi word oor drie dae beslis, met spelers wat daagliks in a beterbal Stableford-formaat meeding. Die algehele wenner word egter bepaal deur die speler wat die meeste individuele punte oor die drie dae ingesamel het.

Dawid het die toernooi met sy telling van 113 punte gewen. Plaaslike gholfspelers JQ van der Walt en Maarten Venter was gesamentlik tweede, beide met tellings van 112 punte.

Vanjaar se Hanglip 54-toernooi is weereens goed ondersteun met ‘n vol veld van 128 spelers wat elke dag afgeslaan het.

Donderdag se spel, oudergewoonte geborg deur die Makhado Munisipaliteit, is gewen deur Chantell Strydom en A Volschenk met ‘n beterbal Stableford-telling van 49 punte. Werner Roux en Johan van Wyk was op ‘n uittel tweede met 48 punte en Marius Mostert en Kobus Barkhuizen (snr.) derde, ook met 48 punte.

Dawid het reeds op dag twee van die Hanglip 54 sy intensie gewys om te wen, toe hy en spanmaat Anton Roux as oorwinnaars uit die stryd getree het met ‘n telling van 49 beterbal Stableford punte.

T Senekal en T Pretorius was tweede met 45 punte en P Anderson en C Nienaber derde met 44 punte. Dag twee se spel is geborg deur Coca-Cola Fortune.

Dag drie se spel, geborg deur die Louis Trichardt sakemanne, is gewen deur John Anderson en C Nienaber met 47 punte. Maarten Venter en Inus Steyn was tweede op ‘n uittel met 46 punte en Werner Roux en Johan van Wyk derde, ook met 46 punte.

Oudergewoonte was die Klerksdorp-groep ook weer hier om hul spiere te wys. Vir die afgelope paar jaar is daar ‘n bietjie van ‘n “vete” tussen Klerksdorp en Soutpansberg om te bepaal wie se spelers die meeste individuele Stableford-punte tydens die drie dae kan inoes. Slegs die twee klubs se top 20 spelers se tellings kom in aanmerking. Hierdie “vete” het twee jaar gelede daartoe aanleiding gegee dat die klubs besluit het om ‘n trofee te gee vir die klub wie se spelers die meeste punte kan insamel. Verlede jaar het die trofee aan Soutpansberg gegaan. Die trofee bly vanjaar weer hier, met Soutpansberg wat dit vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar ingepalm het.

 

Written by

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines