ADVERTISEMENT:

 

Quentin se Citi Golf nommer 13, tydens die Goldwagen VW Challenge wedren op Kyalami op 31 Julie. Foto:www.vwchallenge.co.za.

Quentin haastig op pad na oorwinning

 

Sport  Date: 20 August 2010

 

Na uitstekende wedrenne, veral op Kyalami, sal renjaer Quentin Thompson van Louis Trichardt moeilik geklop kan word in die nasionale Goldwagen VW Challenge-kompetisie.

Quentin het op 31 Julie op die Kyalami renbaan in Midrand 23 uit ´n moontlike 24 punte verdien. Daarmee kom Quentin se totale punte op 129 te staan. Hy is heel bo aan die algehele punteleer, met sy naaste teenstander ‘n volle 25 punte agter hom. Met nog drie wedrenne oor, het Quentin nou amper die titel in die sak, maar hy verloor geensins fokus nie.

“Mens bly nie noodwendig bo nie. Ek moet nou net nie ‘n swak naweek hê nie,” sê Quentin.

Hy skryf sy sukses toe aan harde werk.

“Jy moet goeie voorbereiding aan die kar doen en jy moet konstant wees,” sê Quentin. Hy ry ‘n CitiGolf waarvan hulle die enjin kon verander volgens die reëls van Klas B. Spesifieke voorbereidings word ook aan die kar gedoen om by elke afsonderlike renbaan aan te pas.

“Jy verander die opstel van die kar van baan tot baan. Jy moet weet wat jy doen,” sê Quentin.

Hierdie naweek gaan hulle op Zwartkops in Pretoria-Wes ry. Dit is ‘n belangrike naweek wat sy posisie as nommer een kan beklink. Daar is nie net die tegniese voorbereidings nie, maar die wedren word ook wetenskaplik benader. Kameratoerusting verfilm elke wedren, sodat hulle besluite kan neem oor hoe om die baan wetenskaplik te benader. Die “hulle” is natuurlik Quentin en sy renjaer-pa, Peter Thompson.

"My pa doen baie goed. Daar is nie baie mense van 64 wat kan sê dat hulle nog resieskarre ry nie,” sê Quentin. Die afgelope Kyalami-wedren was net so ‘n goeie een vir pa Peter. Hy het tweede na sy seun geëindig in klas B en hy lê sesde op die punteleer, met 78 punte.

Met so ‘n agtergrond en gene kan dit net goed gaan met Quentin, wat as baba sy eerste treetjies langs die renbaan gegee het.

“Dit was in 1972 en toe was my pa al besig met resiesjaag. Ek jaag van 1994 af,” sê Quentin. Ophou jaag is ook nie in pa of seun se woordeskat nie. Die adrenalien hou hulle op die baan.

Vir Zwartzkops is alles reg.

“Die kar lyk goed. Ons het ‘n paar dingetjies verander op die kar. Ons neem ook vir Gavin Watson saam. Hy is ‘n werktuigkundige wat self ook gejaag het,” sê Quentin. Dan lê daar nog ‘n wedren by Phakisa in Welkom voor en die laaste wedren van die jaar is weer op Kyalami, Quentin se gunstelingbaan.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines