ADVERTISEMENT:

 

Renjaer Quentin Thompson in sy Thompson Volkswagen Golf I (heel voor) in ‘n taai stryd gewikkel tydens die Goldwagen VW Challenge se wedren op Zwartkops op 21 Augustus. Quentin is heel bo-aan die punteleer en daar word verwag dat hy die algehele wenner sowel as die klasB wenner sal wees. Daar is nog twee wedrenne in die reeks oor. Foto: www.vwchallenge.co.za.

Quentin kraai steeds koning bo-aan punteleer

 

Sport  Date: 24 September 2010

 

Met nog net twee wedrenne oor in die nasionale Goldwagen VW Challenge, lê renjaer Quentin Thompson van Louis Trichardt steeds heel bo-aan die punteleer.

Na afloop van die Zwartkops-wedren op 21 Augustus, het Quentin se punte opgeskuif na 145. Hy is 28 punte voor sy naaste teenstander op die algehele lys en 42 punte voor sy naaste teenstander in die B klas, Jannie van Rooyen (snr).

Die Zwartkops-wedren was uiters spannend. Quentin in sy Thompson Volkswagen Golf I het die vinnigste kwalifiserende tyd gehad en kon voor wegspring. In die eerste resies was Derek Minnie met ‘n Demac Golf II en Jannie van Rooyen met ‘n Goldwagen Roodepoort Golf I kort op sy hakke. Hierdie drie het die heeltyd sake uitgespook. Net voor die wenstreep was Thompson en Minnie sy aan sy en Minnie het met 0.039 van ‘n sekonde gewen.

In die tweede resies van die dag het Quentin weer die voortou geneem. Hy en Minnie het weer ‘n taai geveg gehad. Met twee rondtes oor, het Minnie verbygesteek, maar Quentin het om die volgende draai weer sy voorste plek ingeneem en daaraan vasgeklou tot oor die wenstreep.

“Dit was regtig spannend. Dis baie beter om ver voor te wees,” het Quentin hierdie week gesê.

Maar ver voor op die punteleer is hy beslis. Alhoewel hy baie moeilik ingehaal sal kan word, sê Quentin dat dit nie onmoontlik is dat iemand hom kan inhaal nie. “Mens kan nooit voorsien wanneer daar ‘n probleem kan kom nie,” sê Quentin.

Quentin se pa, renjaer Peter Thompson, lê nou derde in klas B en algeheel agste. “Ons wil graag hê hy moet opskuif tot die tweede plek,” sê Quentin. Hulle is besig om die karre voor te berei vir die wedren op Phakisa in Welkom op 9 Oktober. Daar moet verstellings aan die karre gedoen word om by elke betrokke renbaan aan te pas.

Die laaste wedren van die jaar vind op 13 November op Kyalami plaas.

“Ek kan nou nie wag dat dit moet klaar kom nie. Dit vat nou te lank,” sê die renjaer wat vanjaar se Goldwagen Volkswagen kompetisie so amper in die sak het. Geen wonder dat Quentin haastig word nie, hy is mos ´n haastige blits op die renbaan.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines