

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 05 March 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Marli Knoetze, die trots van Hoërskool Louis Trichardt, Levubu en die hele Limpopo, se atletiek prestasies verbeter teen 'n asemrowende pas, en steeds stel sy haar visier hoër.
Marli het op 27 Februarie tydens die jaarlikse interhoër in Polokwane die Suid-Afrikaanse 0/18 diskus rekord verpletter met haar skitterende afstand van 49,64m. Dit is reeds die derde keer hierdie seisoen dat Marli dié rekord verbeter, met twee gooie op Musina van 47,26m en 48,04m.
"Ek wou graag 50m gegooi het," het die 16-jarige Marli glimlaggend gesê na afloop van haar rekordgooi by die Peter Mokaba Stadium.
Die erkenning van die rekord het 'n probleem geskep, ten spyte daarvan dat die byeenkoms by die provinsie se beste stadion plaasgevind het en die staal maatband en ander vereistes in plek was. Die probleem was dat toetse vir verbode middels nie beskikbaar was nie. Marli laat haar egter nie stuit nie en is gereed om nog verder te gooi op 'n groot byeenkoms waar geriewe beskikbaar is om atlete na afloop van rekords te toets.
In die gewigstoot het Marli Vrydag 'n wenstoot van 13,96m gehad, alhoewel die reën lastig was.
Marli het al vier maal in die diskus en twee maal in die gewigstoot gekwalifiseer om in Julie in Grosseto in Italië aan die IAAF Junior Wêreldkampioenskap deel te neem. Sy is lid van die ASA (Atletiek Suid-Afrika) se voorbereidingspan en is 'n sekere keuse vir die finale span wat in Mei aangekondig sal word.

ADVERTISEMENT:
