ADVERTISEMENT:

 

Tydens die Suid-Afrikaanse nasionale laerskole atletiekkampioenskappe in Germiston op 18 Maart, het Subrina Schlesinger drie maal 5.15m gespring. Dit was dan ook haar wenafstand in die MO/13-verspringnommer. Foto verskaf.

Subrina wen goud op SA´s

 

Sport  Date: 25 March 2011

 

Subrina Schlesinger (13) moes haarself omtrent knyp om seker te maak dis die werklikheid.

“Mamma, is dit regtig, het ek regtig goud op die SA’s gekry?” het sy gevra, nadat die goue medalje vir verspring om haar nek gehang is.

Nie net het haar ma, Susaar Schlesinger, elke sprong van haar by die nasionale laerskole atletiekkampioenskappe in Germiston dopgehou nie, maar ook haar verspring afrigters, Elzeth Olivier en Elzabé Stewart van Laerskool Louis Trichardt. Trane van blydskap het oor aldrie se wange geloop toe Subrina wen.

“Ons is ongelooflik trots op ons eie Suid-Afrikaanse kampioen. Dit is ‘n uitstaande prestasie vir een van ons Triegies. Sy het konstant geoefen. Daarom was Subrina ook op provinsiale vlak twee jaar na mekaar die Victrix Ludorum,” het Elzabé gesê.

Subrina het Vrydag, 18 Maart, drie maal 5.15m gespring. Dit was dan ook haar wenafstand in die MO/13-verspringnommer. “Ek is so trots op haar, want sy het hard gewerk hiervoor,” het Susaar Maandag gesê.

“Op die veld het sy goed voorbereid, beheersd, gefokus en kalm voorgekom. Ek het vir haar gesê om te onthou dat al haar mededingers op die veld haar teenstanders is, totdat die kompetisie verby is, dan kan hulle weer haar maatjies wees.”

Gelukkig was die verspring nommer eerste, want Subrina sukkel al ‘n paar weke met ‘n liesbesering en spasmas in die bobeen. Daarna het die 100m gevolg, waar sy vierde in die semi-finaal geëindig het. Weens las van die besering, moes sy onttrek van die aflosnommer.

Dit is Subrina se derde SA-byeenkoms. Sy het oor ‘n lang tydperk drie dae per week verspring en vier dae per week naellope geoefen. Subrina wil spesiaal dankie sê aan Elzeth, wat haar die afgelope vier jaar afrig en al die tyd in haar geglo het. Sover vasgestel kon word, is dit die eerste keer in 20 jaar dat ´n Triegie-atleet goud tydens ´n SA-byeenkoms verwerf.

Nog ‘n Triegie-atleet, Daniël Joubert, spog met ‘n brons medalje vir die SO/12-aflos. Daniël het na die wenpaal gehardloop vir die Limpopo-span en het vyfde gelê toe hy die aflosstokkie ontvang het. Hy het verby twee teenstanders geseil om ´n brons vir sy span te verseker. Daniël het ook aan die 100m en 150m deelgeneem en tot by die semi-finale in die 100m deurgedring.

Nsuku Baloyi, O/10-atleet van Laerskool Louis Trichardt, het aan die 80m, 100m en 75mh deelgeneem en met die 80m en 100m tot by die semi-finale deurgedring.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines