ADVERTISEMENT:

 

Hierdie talentvolle O/9-rugbyspelers van Laerskool Louis Trichardt is bekroon as die grootskole-ligawenners. Voor, van links, is Armand Boshoff, Té-wan Naudé, Glen Keijer, Darius Boshoff, Alexander Nel, Rohan Cronjé en Eugene van den Heever. In die middel is Justin Pieterse, Gerhard Maré, Dylan Storm, Brendan Carstens, Ethan Herman, Tjibbe König, Tian Grobler, Koben Hofmeyer en Richard-Dean Anderson. Agter is Ernst Simon, Franco Knoetze, LJ Fick, Jaden da Gama, Gerhardus Fourie en Tondi Sadiki. Afwesig: Gregory Walkenshaw. Heel agter is die afrigters, mnre. Lambert Fick, Werner Boshoff en Nico König. Foto verskaf.

Triegies se O/9´s onstuitbaar in finaal

 

Sport  Date: 24 June 2011

 

Die O/9-rugyspan van Laerskool Louis Trichardt het geskiedenis gemaak deur die finaal van die grootskole-liga te wen.

“Dit is die eerste keer in ‘n paar dekades dat ‘n O/9-rugbyspan ligawenners is. Ek kan onthou dat daar in die tagtigerjare ‘n O/9-span was wat dit tot in die eindrondtes gemaak het. Triegies neem al ses jaar aan die grootskole-liga deel en dit is definitief die eerste keer dat ons O/9 -span in hierdie liga wen,” sê mnr. Greg Stewart, die span se organiseerder.

Die O/9’s het op 16 Junie om 08:00 in die semi-finaal teen Ellisras te staan gekom. Hulle het Ellisras oortuigend geklop met 32 punte teenoor 5 en kaptein Franco Knoetze is aangewys as die speler van die wedstryd. Die wedstryde is op Hoërskool Warmbad se velde beslis.

Om 11:00 het die finaal afgeskop. Die opponente was Laerskool Tzaneen, wat Thabazimbi in die ander semi-finale wedstryd met 15-5 geklop het.

Een van die span se afrigters beskryf die verloop van die wedstryd.

“Triegies het vroeg in die finaal hul stempel afgedruk deur puik verdediging en het Tzaneen konstant op die agtervoet gehad met hulle aanvallende spel. Louis Trichardt se vaste vyf het beïndruk deur die skrums te oorheers met twee vaskoppe. Hulle het ook goeie tweede- en derdefase balbesit afgedwing in die losskrums. Die eerste drie is gedruk deur Franco Knoetze vanaf ‘n vinnige derdefase besit.

Die oopkant flank, Alexander Nel, het gesorg dat Tzaneen weinig kon doen met die bal,” sê Nico König.

In die lynstaan het Tjibbe König “soos ‘n wafferse Victor Matfield” al sy eie balle skoongevat en feitlik al Tzaneen se balle afgeneem. Die losskakel, Gerhardus Fourie, het die tweede drie van die wedstryd gedruk.

König sê dat Franco die opponente vroeg in die tweede helfte verras het deur ‘n vinnige tikskoppie te neem, nadat ‘n strafskop naby die halflyn aan hulle toegeken is. Franco het vyf spelers geklop aan die buitekant en met ‘n drie in die hoekie gesorg dat Triegies 17-0 voorloop.

“Na ‘n skouspelagtige breek om die skrum het Eugene van den Heever die laaste drie aangeteken. ‘n Toeskouer het Eugene se spel opgesom deur op te merk dat ‘Fourie du Preez ‘n bietjie kan kers opsteek by daardie bulletjie’,” sê König. Die span wen uiteindelik 22-0. Eugene is ook aangewys as die speler van dié wedstryd.

Die span en hul afrigters, mnre. Lambert Fick, Werner Boshoff en Nico König, bedank graag al die ouers van die spelers, die skool en al hulle borge, waaronder Limpopo Melkery, Laqua en U-Print, vir hul ondersteuning.

Dié talentvolle spannetjie is uitgeooi na die Bondedag in Pretoria op 29 en 30 Julie, waar hulle sal deelneem teen Mpumalanga, Noordwes en Gauteng.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines