

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 15 July 2011
Plaaslike gholfer Maarten Venter het Saterdag triomfantlik die gesogte Hanglip 54-trofee bo sy kop gelig ná een van die taaiste toernooie nog.
Venter, wat verlede jaar ‘n gesamentlike tweede en derde plek moes deel met JQ van der Walt, het hierdie jaar die toernooi gewen met ´n wentelling van 111 individuele Stableford-punte.
Die Hanglip 54-toernooi, wat jaarliks deur die Soutpansberg Gholfklub aangebied word, word as een van die top provinsiale gholftoernooie beskou en lok spelers vanoor die hele land. Hierdie jaar was weereens geen uitsondering, met spelers wat so ver as Kaapstad gekom het. Oudergewoonte het die manne van Klerksdorp ook hulle opwagting gemaak.
Die toernooi word oor drie dae beslis, met spelers wat daagliks in ‘n beterbal Stableford-formaat meeding. Die algehele wenner word egter bepaal deur die speler wat die meeste individuele punte oor die drie dae ingesamel het.
Vanjaar se Hanglip 54-toernooi is weereens goed ondersteun, met ‘n vol veld van 128 spelers wat elke dag afgeslaan het. Vanjaar se toernooi is egter gekenmerk deur trietsige weer en selfs reën en soos klubkaptein Marius Mostert tereg opgemerk het, “dit was ‘n rowwe drie dae gewees”, met spelers wat gesukkel het om te verbeter op laasjaar se punte.
Oudergewoonte is Donderdag se spel deur die Makhado Munisipaliteit geborg. Marnis Leeb en Louis Geldenhuys van Klerksdorp was die wenners van die eerste dag se spel, met ‘n beterbal Stableford-telling van 45 punte. Dennis en Corné Eveleigh was op ‘n uittel tweede met 44 punte, en Werner Roux en Johan van Wyk derde, ook met 44 punte.
Op dag twee was die wenners Ian Steyn en sy spanmaat C. van den Berg, met ‘n telling van 46 beterbal Stableford-punte. Plaaslike vrouekaptein Teresa Senekal en haar spanmaat, Lezaan van der Merwe, het die tweedeplek ingepalm met 46 punte op ‘n uittel en M. Krogh en Sammy Deysel met 45 punte op ‘n uittel was derde. Dag twee is geborg deur Coca-Cola Fortune Louis Trichardt en die Suid-Afrikaanse Brouerye.
Dag drie se spel, geborg deur Louis Trichardt se sakemanne, is gewen deur Glen Wynne en Llewellyn Prenzler van Polokwane, met 46 beterball Stableford-punte. Kort op hulle hakke was John Anderson en Coen Nienaber, ook met 46 punte (uittel) en M. Erasmus en Koos van der Goot met 45 punte (uittel) derde.
‘n Hoogtepunt was toe die trofee vir die klub wie se spelers die meeste punte kon insamel, vir die derde agtereenvolgende jaar deur die Soutpansbergklub ingeoes is. Vir die afgelope paar jaar is daar ‘n vriendskaplike “vete” tussen Klerksdorp en Soutpansberg om te bepaal wie se spelers die meeste individuele Stableford-punte oor die drie dae kan in. Slegs die twee klubs se top 20 spelers se tellings kom in aanmerking vir die beker. Klerksdorp moes met ‘n totaal van 1 342 punte die aftog blaas teenoor Soutpansberg se 1 525 punte.

ADVERTISEMENT:
