

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 19 August 2011
Louis Trichardt sal vir die eerste keer in jare weer optree as gasheer van die finale rondte van die jaarlikse provinsiale Boet Fick-rugbyliga, ná Saterdag se oortuigende rugbysege.
Louis Trichardt se eerstes het die afgelope naweek te staan gekom teen Winterveld en oortuigend gewen met 60 punte teenoor 12. Die tweedes (Levubu) het te staan gekom teen die Universiteit van Limpopo en hul opponente 69-7 kafgedraf.
Buiten vir die afgelope naweek se rugbylesse aan besoekers, het Louis Trichardt se eerstes en die tweedes van Levubu vroeër vanjaar rugbylesse uitgedeel aan Loskop en Musina.
Louis Trichardt se eerstes beklee tans die top posisie op die Boet Fick-punteleer met 19 punte. Hulle het vier wedstryde gespeel, waarvan hulle al vier gewen het. Eers het hulle met Musina afgereken en daarna met Loskop, Phalaborwa en Winterveld. Musina beklee die tweedeplek met 17 punte en drie wenne en een verloor, en Loskop die derdeplek met 12 punte met twee wenne en twee nederlae.
Op 27 Augustus sal die eerste spanne wat tweede- en derdeplek op die punteleer beklee mekaar die stryd aansê in die semifinaal om te bepaal wie in die finaal teen Louis Trichardt te staan gaan kom. Louis Trichardt sal daardie naweek kan rus. As daar na die puntestand gekyk word, sal dit na alle waarskynlikheid Loskop en Musina wees wat in die semifinaal sal speel.
Wat tweedespanne betref, kraai Louis Trichardt se Levubu-span ook koning bo-aan die punteleer met 10 punte, met die Universiteit van Limpopo slegs een punt agter hulle in die tweedeplek. Phalaborwa lê tans derde met vyf punte.
Die Louis Trichardt Rugbyklub se goeie vertoning die afgelope seisoen het aan hulle ´n tuisfinaal besorg. Die finaal sal op 3 September op die klub se velde beslis word.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
