

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 10 October 2011
Vincent van As, uitmuntende skut van Hoërskool Louis Trichardt, verbeter die nasionale rekord in die 10-meter Olimpiese afdeling tydens die Suid-Afrikaanse luggeweerkampioenskappe (SAARA).
Met ´n telling van 589 punte uit ´n moontlike 600 wen die 17-jarige Vincent vir die tweede agtereenvolgende jaar die gesogte trofee as Suid-Afrikaanse kampioen. Die vorige rekord van 588 het sedert 2005 gestaan. Vincent bring ook twee goue medaljes huis toe, een vir die junior-afdeling en een as die senior- en algehele wenner.
Die land se senior Proteaspan bestaan uit Vincent, wat eintlik nog ‘n junior is, en twee ander skuts. Dié span vlieg op 14 Oktober na Kaïro, Egipte, om vir die Afrikabeker te skiet. Slegs die beste een uit die 59 skuts wat daar gaan meeding, sal ‘n kwotaplek ontvang om aan die Olimpiese Spele in 2012 in Engeland deel te neem. Dit is die jong Vincent se droom om by daardie Olimpiese Spele te gaan skiet…
Die Afrikabeker is Vincent se grootste kompetisie ooit en omdat daar baie op die spel is, loop die spanning hoog.
“Gewoonlik moet die top agt uitskiet in ‘n finale rondte. Dit is baie spannend, want almal kyk na jou. Maar as ek eers daar staan om te skiet, fokus ek heeltemal. Dan is dit net jy en die teiken…” vertel Vincent, wat verlede jaar in Londen en hierdie jaar in Duitsland gaan skiet het.
Vincent was nog in die laerskool toe hy hoor dat almal praat hoe lekker dit is om te gaan skiet.
“My pa het my geneem om by oom Michael Rademeyer te gaan skiet. Na die eerste keer het die oom gesê my pa moet my weer bring,” sê Vincent, wat gou ‘n passie vir die sport ontwikkel het. Deesdae gaan hy twee maal per jaar na Magaliesburg vir afrigting en oefen verder sowat een uur per dag by sy pa se werkswinkel op die plaas. Vincent sou graag ‘n professionele skut wou wees en dit klink of die Duitsers hom al klaar vir hulle geoormerk het.
Vir eers moet Vincent hard leer gedurende die skoolvakansie, want as hy terugkom van Egipte, begin hy onmiddellik met sy Graad 11-eksamen.
Vincent bedank die Rotariërs wat sy klere vir die Afrikabeker geborg het. Hy bedank ook die skool en mnr. Gerard Rossouw wat aan die begin vir hom ‘n teiken geleen het en ‘n plek beskikbaar gemaak het vir oefening.
“Verder bedank ek my pa, wat my rondry en sy hand diep in sy sak steek om vir my sport en reise te betaal,” sê Vincent.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
