ADVERTISEMENT:

 

Boogskutter Pieter Leonard is die nuwe wêreldkampioen in die AMBL (Adult Male Bowhunter Limited)-klas.

Wêreldkampioen uit eie bodem

 

Sport  Date: 21 October 2011

 

Die nuwe wêreldkampioen in boogskiet is ´n Soutpansberger!

Pieter Leonard van Louis Trichardt is die beste boogskutter in die AMBL (Adult Male Bowhunter Limited)-klas in die wêreld, nadat hy goud losgeskiet het tydens die Wêreld Binnenshuise Boogskietkompetisie wat vanaf 3 tot 7 Oktober by die UP sportsaal in Pretoria aangebied is.

Met sy gemiddelde punt van 286 uit ´n moontlike 300 het hy met al die skuts in die “beperkte” klas afgereken. Die beperkte klas beteken dat die skut slegs die vingers gebruik. In die onbeperkte klas word daar met snellers en teleskope geskiet. Altesaam 260 skuts uit 14 lande het aan die kompetisie deelgeneem.

In September vanjaar is Pieter as Afrika-kampioen in sy boogskietklas gekroon. Hy skiet al sowat 20 jaar en het reeds in 1997 ‘n silwer medalje verwerf in ‘n wêreld skietkompetisie wat op die plaas Muthamba buite Louis Trichardt gehou is. Na ‘n stil periode waarin hy nie kompeterend deelgeneem het nie, het Pieter in 2009 verras deur ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekord op te stel. Hy is ook gekies vir die Proteaspan wat in 2010 in Duitsland gaan skiet het, waar hy ’n silwer medalje gewen het.

Eggenote Christelle bewonder Pieter se deursettingsvermoë en vasbyt met min oefentyd tot sy beskikking. “Maar dit is sy goeie sportmangees wat my die meeste tref,” sê Christelle.

Pieter het ook ‘n passie om jongmense te leer skiet. Sy tienerdogter, Gerda, was in 2009 en 2010 Suid-Afrikaanse kampioen in haar klas.

Nog al die jare skiet Pieter met ‘n Hoyt-kragboog, wat hy stabiel en betroubaar vind. Nou is hy egter lus vir ‘n nuwe uitdaging.

“Ek dink ek is nou klaar kragboog geskiet. Ek wil nou die tradisionele langboog aanpak,” sê Pieter. Dit is ‘n gewone boog met geen hulpmiddels nie - daar is dit slegs die skut se vingers, die boog, snaar en pyl. Daar word gesê dat die langboogskuts baie geduldige mense is.

“Ek moet sê, boogskiet het my ook rustiger gemaak en geleer om kalm te bly,” sê Pieter.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines