

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 06 February 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die geskiedenis van gimnastiek in die dorp die afgelope 33 jaar is amper sinoniem met Giel en Renette Nel. Giel het onlangs aangekondig dat hy na 22 jaar as hoof gimnastiekafrigter gaan uittree.
In Julie 1970 het Giel op die grasperke van Hoërskool Louis Trichardt met gimnastiek begin. Hulle het ou apparaat gebruik wat hulle herstel het, en ook self apparate gebou. In 1973 is Herman Lintvelt die eerste seun van Louis Trichardt wat provinsiale kleure in gimnastiek kry.
Nadat die Nels sewe jaar in Phalaborwa spandeer het en die gimnastiek daar ontwikkel het, is hulle in 1981 weer terug in Louis Trichardt, toe Giel 'n pos by die Venda Onderwyskollege aanvaar het.
Die huidige Louis Trichardt Gimnastiekklub is deur Giel en Renette Nel begin in 1982. Die eerste oefeninge is gehou in 'n munisipale sinkstoor waar OK Bazaars (nou Shoprite) vandag is. Hulle gebruik ou apparaat wat hulle leen of aankoop en herstel. Later verhuis die klub na 'n groter stoor naby die stasie wat deur een van die ouers beskikbaar gestel is.
"In die laat tagtigerjare word die huidige sportsaal deur die munisipaliteit gebou en verhuis ons met groot vreugde daarheen," onthou die 62-jarige Giel.
Met verloop van tyd is die klub se geriewe en apparaat stelselmatig verbeter deur skenkings en fondsinsamelings van ouers en ander belangstellendes. Die waarde van die klub se apparaat word tans geraam op ongeveer R800 000.
Die afgelope 22 jaar van die klub se bestaan het 'n ryke oes van prestasies opgelewer. Ongeveer 500 gimnaste het provinsiale kleure verwerf, 350 het aan Suid-Afrikaanse spele deelgeneem en 'n stuk of 60 medaljes op nasionale vlak is huis toe gebring.
Sedert 1970 het Giel al sowat twaalf afrigtingskursusse, tien provinsiale en agt nasionale en internasionale beoordelaarskursusse bygewoon. Hy is ook lid van die bestuur van gimnastiek in die provinsie sedert 1974.
Deur al die jare het Renette vir Giel bygestaan as afrigter vir die dogters. Sy is steeds betrokke by die klub as hulpafrigter vir hul dogter, Elzabé Stewart. Renette is ook 'n beoordelaar vir die provinsie.
"Aan die einde van 2003 het ek besluit om die pligte as hoofafrigter aan 'n jong en kragdadige voormalige Suid-Afrikaanse kampioen, Gerrie Vorster, oor te gee. Ek glo dat hy die klub tot nog groter hoogtes sal lei," sê Giel.
Giel bly steeds lid van die klub en beoordelaar vir die klub en die provinsie.
"By die klub sal ek graag optree in raadgewende hoedanigheid en as hulpafrigter, indien hulle my nodig het," sê Giel.

ADVERTISEMENT:
