

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 March 2013
Twee gesinne van Makhado (Louis Trichardt) is verlede week geruk deur die skynbare sinnelose vergiftiging van hul troeteldiere.
Beide families woon in Kiaatstraat en beide se honde is ‘n paar dae uitmekaar doodgemaak, vermoedelik met ‘n snelwerkende gif. Teen druktyd is daar nog gewag op die uitslag van toetse van die staatsveearts om te bepaal watter soort gif die honde ingekry het.
Die eerste honde wat vergiftig is, was die lieflinghonde Rassie en Vlekkie van die Loots-egpaar. Dit was verlede Vrydag. Oudergewoonte is Vlekkie, wat by die egpaar in die huis bly, uitgelaat om haar bene te rek.
Kort hierna het die drie-jaar-oue Vlekkie skeef-skeef by die huis aangekom. Die bediende het dadelik vir Oom Jan geroep. Hy het probeer om vir Vlekkie melk in te jaag, maar sy is in ‘n kwessie van minute dood.
“Ek het nog omgedraai en vir Rassie gesê, ‘Ai, nou is jou maatjie dood,’ toe sak hy ook inmekaar,” het Oom Jan vertel. “Mens is lief vir die diere; ek beskou dit as moord.” Oom Jan het die saak Vrydag by die polisie, asook die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV), aangemeld.
Die volgende dag is mev. Ria Bronkhorst se Yorkie, Giesela, vergiftig. Haar dogter Marisa het Giesela probeer help, nadat sy gedink het daar sit iets in die hondjie se keel vas. Marisa is in die proses aan haar duim raakgebyt. Die gif wat Giesela ingekry het, was so sterk dat Marisa ook siek geword het. Haar polsslag het afgeneem en sy moes mediese behandeling by die privaathospitaal ontvang.
Ria het by haar seun Henk, wat ook oorkant Oom Jan bly, gekuier. Henk se Pekinese hondjie is drie weke gelede vergiftig. Daar word vermoed dat die gif wat Giesela ingekry het, eintlik vir Henk se Jack Russel bedoel was.
Giesela is op pad veearts toe dood. “Ons is baie hartseer oor Giesela. Hoe kan mense so iets doen aan ander mense se troeteldiere?” wou Ria weet.
Intussen het Oom Jan gesê dat hy die saak nie net so sal los nie. “Ek het ‘n vermoede wie dit is, en sodra die toetse van die veearts terugkom, gaan ek toesien dat daar verder ondersoek ingestel word,” het hy gesê. Hy is van mening dat dit nie misdadigers is wat die hondjies vergiftig het met die oog daarop om in te breek nie. “Dit is mense wat nie lief is vir diere nie,” het hy gesê.
Mnr. Lawrence Khodobo, plaaslike DBV-inspekteur, het gesê daar kan eers verder ondersoek ingestel word as die toetse van die staatsveearts terugkom. Sulke toetse neem tot ‘n week om afgehandel te word.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
