ADVERTISEMENT:

 

Leon van Dijkhorst afgeneem tydens sy en sy broer se Suiderkruis-tog oor die land. Foto: Facebook.

Suiderkruis-projek: Johan en Leon trap nog sterk

 

Sport  Date: 13 December 2013

 

Sonskyn of reënweer … dit maak nie saak nie. Die twee Van Dijkhorst-broers is op ‘n missie en het alreeds vyf provinsiale grense oorgesteek as deel van hulle Suiderkruis-projek.

Die Zoutpansberger het Dinsdagaand met hulle gesels pas nadat hulle in Hanover aangekom het, waar hulle die nag sou oorslaap. Johan van Dijkhorst van Makhado (Louis Trichardt) en sy broer, Leon, is tans besig met ‘n epiese fietsrit van ongeveer 4 200km deur Suid-Afrika in die vorm van ‘n kruis (noord na suid en dan weer van oos na wes).

Hulle poog om met hierdie projek geld in te samel vir die beveiliging van plaasboere, die bestryding van renosterstropery en ook vir Bybelverspreiding.

Johan het Dinsdag tydens ‘n telefoniese onderhoud meer vertel van hulle interessante tog deur die land. Hulle het toe pas ‘n skof van sowat 164km, vanaf Philippolis na Hanover, agter die rug gehad, op pad na die mees suidelike punt van Afrika. “Bo en behalwe die fisiese uitdaging van hierdie rit, is dit ook baie harde werk. Dis ‘n kop ding; mens moet fisies en geestelik voorbereid wees,” het Johan gesê. Al was die telefoonlyn nie van die beste nie, was daar van moegheid geen sprake in sy stem nie.

Teen druktyd het die twee broers net-net die 1 200km-merk oorgesteek, met net een pap wiel. “Wat lekker is, is die vragmotors wat mens op die pad teëkom. Van hulle begin ons nou herken en begin al van ver af toeter te blaas vir mens,” sê Johan.

Behalwe vir al die interessante mense wat hulle ontmoet, sê Johan, het hulle ook hope boeregasvryheid teëgekom. Elke Sondag rus Johan en Leon, voordat hulle weer die langpad aandurf. Die afgelope Sondag is hulle in Bloemfontein onthaal deur lede van die Vrystaatse Landbou-unie. Mense het van wyd gekom om die twee broers te ontmoet.

“Vir ons ouens wat in die dorp bly is plaasveiligheid nie so ‘n werklikheid soos vir mense in die platteland nie. Vir hulle is dit ‘n realiteit,” sê Johan. “Die impak van ‘n plaasaanval het soveel gevolge. Dit is nie net die slagoffer wat geraak word nie, maar ook die mense om hom – ‘n feit wat dikwels uit die oog verloor word.”

Volgens Leon sal 80% van die fondse wat hulle insamel, gaan na organisasies wat veiligheid op plase bevorder. Die oorblywende fondse sal verdeel word tussen organisasies wat renosterstropery beveg en die Gideons Internasionaal vir Bybelverspreiding. Dinsdag, sê Johan, het hulle al R28 000 ingesamel.

Die Van Dijkhorst-broers se tog kan op hul webtuiste (www.suiderkruisprojek.co.za) of Facebook-blad (Southern Cross Project) gevolg word. Op hierdie platforms kan mense boodskappe of donasies vir die broers los.

“Ons bedank almal wat tot dusver die projek ondersteun het,” sê Johan.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines