ADVERTISEMENT:

 

Wyle Tiaan Schlesinger (19). Foto verskaf.

Die Here het hom kom haal ...

 

News  Date: 29 October 2012

 

"Hy’s weg. Die Here het hom kom haal ..." Só het die laaste SMS-boodskap van ‘n familielid aan die Zoutpansberger vroeg Woensdagoggend gelees oor die toestand van die 19-jarige Tiaan Schlesinger.

Dit was ‘n boodskap wat niemand verwag het of wou hoor nie. Skaars ‘n uur vantevore is daar nog telefonies met Tiaan se ma gepraat. Die afwagting was steeds daar dat daar beterskap sou wees in Tiaan se toestand. Net die vorige dag het sy ouers, ma Seretha en pa Eddie van Makhado (Louis Trichardt), die eerste keer in bykans ‘n week goeie nuus ontvang. Alhoewel steeds kritiek, was Tiaan se toestand die eerste keer stabiel.  Die prognose was dat as hy hierdie toestand vir 24 uur kon handhaaf, dit die keerpunt sou wees op Tiaan se pad na volle herstel. Tiaan het egter steeds 100% suurstof ontvang en was nog aan ‘n dialise masjien gekoppel.

Tiaan, wat verlede jaar aan Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer het en besig was met sy studies in natuurbestuur by die Centurion Akademie, het die afgelope week ‘n stryd om oorlewing gevoer in die Pretoria-Oos Hospitaal. Sy lewensstryd het die gemeenskap se harte aangegryp. Van oral het boodskappe van beterskap ingestroom en in kerke is inwoners gevra vir voorbidding vir hom en sy familie.

Tiaan is voorverlede Sondag in die hospitaal opgeneem, nadat hy begin siek voel het. Sy toestand het deurlopend verswak. Teen Woensdag (17de) het medici vasgestel  dat Tiaan die Herpes Simplex nommer 1 virus (ook bekend as die koorsblaarvirus) opgedoen het. Dit het hepatitus (ontsteking) in sy lewer veroorsaak, asook candidiase (swaminfeksie)  in Tiaan se slukderm. Dit het blykbaar daartoe bygedra dat hy ook bakteriële infeksie van die longe opgedoen het. Teen Maandag hierdie week het Tiaan se niere begin probleme gee. In daardie stadium het dokters hom ‘n 60% kans op oorlewing gegee.

Steeds het die hoop op volle herstel en genesing nie by sy ouers en die gemeenskap vervaag nie. “Bid onophoudelik vir my kind,” was Seretha se deurlopende pleidooi.

En toe, die ondenkbare ... Woensdag om 08:51 kom die SMS deur wat lees: “Bid, sy hart gaan staan”. Twintig minute later het die skoknuus gevolg dat Tiaan oorlede is. Dié nuus het hierdie week ‘n gemeenskap in rou.

“As julle met Eddie en Seretha praat, sê vir hulle ons dink aan hulle en bid vir hulle in hierdie moeilike tyd,” was menige inwoner se versoek aan die Zoutpansberger.

Teen druktyd was daar nog geen besonderhede rondom begrafnisreëlings vir Tiaan nie. Intussen stroom boodskappe van medelye en afskeidsgroete op Tiaan se Facebook-blad in.

“Tiaan ... Dat j nou al moes gaan is vir ons almal n Skok maar ek weet j is op n plek waar almal jou met ope arms sal ontvang... Die Here het jou vir ons almal gleen en di tyd het gekom dat hy jou meer nodig ht.. Tot ons mekaar weer sien vriend...” lees een inskrywing. Nog ‘n vriend se boodskap lees: “Gaan juw baie mis vriend RIP sien weer eendag dit was I voorreg om juw te geken het en sal juw altyd onthu.” Een boodskap lees: “Death leaves a heartache no one can heal, love leaves a memory no one can steal. Rus in vrede Tiaan.”

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines