ADVERTISEMENT:

 

Sondag se voorblad van 25 Mei.

Sondige SONDAG?

 

News  Date: 10 June 2013

 

Het die Sondag-koerant ‘n verskuilde motief gehad met hul smeerveldtog twee weke gelede in die dorp, en het die feit dat hierdie poniekoerant ‘n paar maande gelede skerp deur die Zoutpansberger gekritiseer is oor hul beriggewing, dalk bygedra tot hul persoonlike aanval op plaaslike besigheidslui?

Hierdie is van die vrae wat gevra word na aanleiding van ‘n reeks berigte wat op 25 Mei in die Sondag verskyn het onder die opskrif “Doom se doring”.

Die berig in Sondag het gehandel oor dr. Philip Venter, mede-leraar van die N.G. Kerk Soutpansberg-gemeente. Die leraar word voorgehou as ‘n vroue-jagter wat in verskeie buite-egtelike verhoudings betrokke is. Een van die verhoudings sou na bewering wees met die eienaar van die Zoutpansberger se vrou.

Sondag se “bewyse” vir die verhoudings is gesetel in ‘n Ringskommissie se bevinding oor dr. Venter asook ‘n anonieme bron. Die plaaslike N.G. kerke se Ringskommissie het dr. Venter ‘n paar weke gelede skuldig bevind dat hy pastorale grense oorskry het in ‘n vriendskapsverhouding en hy is vermaan. Hy en sy vrou, Meryl, is ook aangesê om vir huweliksberading te gaan.

Kort ná die berigte in Sondag verskyn het, het mnr. Anton van Zyl, eienaar van die Zoutpansberger, ‘n klag by die Persraad gelê. In die skrywe aan die ombudsman kla hy dat Sondag se verslaggewer haar geensins aan feite gesteur het nie en die waarheid doelbewus verdraai het om ‘n sensasionele berig te kan publiseer.

Die NG Kerk Ring van Louis Trichardt het ook ‘n verklaring uitgereik kort na die smeerberigte verskyn het en hulself daarvan gedistansieer. “Dit is duidelik kwaadwillige beriggewing oor dr. Venter wat uit verband geruk is en nie reg laat geskied aan die feite of persone betrokke nie,” lees die Ring se verklaring.

“Dit is ‘n geval waar persone wat in liefde ‘n probleem aanspreek, deur kwaadwillige afleidings daarby betrek word,” het Van Zyl hierdie week gesê. Hy het verduidelik dat hy wel einde verlede jaar vir dr. Venter gekonfronteer het oor die feit dat hy iets meer as vriendskap gesoek het by Van Zyl se vrou. “Dit was eenmalig; sy het hom tereggewys en hy het onderneem om nie weer die perke van vriendskap te oorskry nie,” sê hy. Die uitdaging was, volgens van Zyl, om die leraar by te staan in die proses om sy huweliksprobleme uit te sorteer.

Wat die ondersoek van die Ring betref, het Van Zyl uitgewys dat dit nooit op versoek van ‘n individu was of selfs die kerkraad van Soutpansberg-gemeente nie. Die Ring het besluit dat hulle moet toetree en moet probeer vasstel wat die kern van die probleem is. Die Ringskommissie het in hul ondersoek ook na ander klagte rakende dr. Venter geluister, maar dit verwys na ‘n verdere sitting.

“Die hartseer is dat die Sondag se verslaggewer dit duidelik aan my gestel het dat sy oor die Ringsverslag en stawende dokumente beskik. Ek het aan haar gesê dat dit dan mos redelik maklik is om die feite te verifieer.”

Die vermoede bestaan dat Sondag se anonieme bron vir die stories ‘n persoon is wat ‘n geskiedenis van emosionele onstabiliteit het. Dit is waarskynlik ook ‘n persoon met ‘n spesifieke vendetta teen dr. Venter, Van Zyl en die ander vroue wie se name in die berig vermeld word. “Dit is hartseer, maar dit is ook iets waarteen verslaggewers moet waak wanneer hulle hierdie tipe stories doen,” sê Van Zyl. Hy voeg by dat dit ook hartseer is dat vroue wie se name nie eers in die spesifieke Ringsondersoek genoem is nie, deur Sondag betrek is.

Dr. Philip Venter het in kommentaar gesê die vals beriggewing was doelbewus gerig daarop om seer te maak. “Die optrede van hulle bron is baie lafhartig en on-Christelik,” het hy gesê. Hy het die berigte as ver verwyderd van die waarheid beskryf en gesê die feite is doelbewus geïgnoreer.

Die “vete” tussen die Zoutpansberger en Sondag duur al ‘n hele paar maande. In Januarie vanjaar het Sondag se verslaggewers ‘n besoek aan Makhado (Louis Trichardt) gebring om te berig oor ‘n beweerde homoseksuele verhouding wat ‘n ander leraar op die dorp sou hê. In die proses was daar ‘n onderonsie tussen Sondag se verslaggewer en die Afriforum voorsitter op die dorp, mnr. Wally Schultz. Schultz moes die aand in die selle deurbring ná hy na bewering Sondag se verslaggewer gedreig en ‘n bladsy uit sy notaboek geskeur het.

In die Zoutpansberger se berig oor die petalje is kritiese kommentaar uitgespreek oor die Sondag se styl van verslaggewing. Dit het Sondag se redakteur, mnr. Peet Bothma, baie ontstel en hy het ‘n apologie geëis. In ‘n brief aan Bothma is verskoning aangebied omdat Sondag nie die reg op repliek gekry het nie, maar skerp kritiek is ook uitgespreek oor die wyse waarop Sondag omgaan met die waarheid en hulle wyse van beriggewing.

“Dit mag wees dat die insident in Januarie steeds in die agterkop was en as motivering gedien het om getuienis in hul besit blatant te ignoreer,” sê Van Zyl.

Bothma het op ‘n vraag hieroor gereageer en gesê dit is nie Sondag se beleid om betrokke te raak by vendettas wat deur die media gevoer word nie. Hy wou geen verdere kommentaar lewer nie (sien Sondag Korrespondensie - Rakende dominee berig.pdf hieronder).

‘n Aspek van die saak wat egter wel rede tot kommer in die bedryf is, is Sondag se gebruik om nie direk te reageer op klagtes wat by die Persraad se kantoor aanhangig gemaak word nie. Die openbare advokaat in die ombudsman se kantoor, me. Latiefa Mobara, het Maandag bevestig dat die klag deur Sondag na Media 24 se prokureurs verwys is. Sy het gemeld dat ervaring haar geleer het dat Sondag nie self kommentaar lewer nie.

Die media was die afgelope paar jaar onder geweldige druk vanaf regeringskant, wat wil hê ‘n tribunaal moet ingestel word om oortreders vas te vat wat hulle nie veel steur aan etiese norme nie. Die gevaar is egter dat so ‘n tribunaal misbruik kan word om persvryheid aan bande te lê. Die bedryf het gereageer deur te begin om omvattende veranderings aan te bring aan die perskode en die ombudsman se werkswyse heeltemal te hersien. Vanuit die bedryf was die duidelike boodskap dat hulle glo die probleme moet liefs deur ‘n stelsel van selfregulering aangespreek word.

“Dit is wat Sondag se optrede selfs meer laakbaar maak,” sê Van Zyl. “Die bedryf sê ons moet nie deur die howe gereguleer word nie. Ons ontmoedig lesers om eers na hul prokureurs te hardloop en die sake in die howe te besleg. Hoe billik is dit dan vir die media om eers na hul prokureurs te hardloop voor hulle reageer?”

Teen druktyd het Sondag nog nie gereageer op die klagte by die Persraad nie. Die koerant het sewe dae om te antwoord op die klagte. Sou die openbare advokaat, me. Mobara, besluit dat die partye nie tot ‘n vergelyk kan kom nie, word die saak na die ombudsman verwys.

Verskeie ander vrae is ook vroeër die week aan Sondag se redakteur, Peet Bothma, gestuur. Hy is gevra om te reageer op gerugte dat van Sondag se personeel ontevrede is met die redaksionele beleid van die koerant en ander heenkome soek. Sondag is ook gevra of hulle beide die letter en gees van die Perskode onderskryf en of dit standaardpraktyk is om klagtes na hul regsverteenwoordigers te verwys. Hulle het ook verkies om nie hierop te reageer nie.

 

Written by

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines