ADVERTISEMENT:

 

Seldsame lugfoto's van die rivier wat by Wyliespoort oorstroom het ná sikloon Astrid deur die poort is en groot skade aangerig het aan die nuwe nasionale pad wat amper klaar gebou was. Foto: Gert Smit, 2 Januarie 1958.

Unieke kykie na sikloon Astrid se skade van 60 jaar gelede

 

Terwyl die stygende kwik menige inwoners van die Soutpansberg lekker laat sweet het oor die Desembervakansie, was dit amper moeilik om te glo dat die streek in die vyftigerjare oor dieselfde tyd verspoel het.

Tussen Desember 1957 en Januarie 1958 het sikloon Astrid groot skade veroorsaak in die Soutpansberg-gebied. Geskiedkundige foto’s, wat op 2 Januarie 1958 deur mnr. Gert Smit van Levubu geneem is, is presies 60 jaar later deur ‘n navorser vir die Universiteit van Venda, Dr Norbert Hahn, op sy Facebook-blad geplaas.

Dié geskiedkundige foto’s wys die geweldige skade wat Astrid aangerig het toe die rivier by Wyliespoort oorstroom het. In daardie jare was die bouwerk aan die nasionale pad amper voltooi gewees.

Die natuurramp is beskryf in die eeufees geskiedenisboek van Johann WN Tempelhoff. Volgens Tempelhoff het die rivier by Wyliespoort oorstroom en gedeeltes van die nuwe pad heeltemal beskadig.

Met dié dat die pas oor die berg onbegaanbaar was, was heelwat mense gestrand. Tempelhoff skryf in sy boek dat sowat 80 toeriste, onderweg na Rhodesië (hedendaagse Zimbabwe), moes omdraai en noodgedwonge by die munisipale kantore om hulp aanklop.

‘n Sekere mnr. Frans Jacobs het toe een van die koshuise by ‘n plaaslike skool tot die gestrandes se beskikking gestel. Altesaam 150 plaaslike boere het ingespring en varsprodukte geskenk, sodat die mense darem iets te ete gehad het.‘n Noodfonds is ook op die been gebring, wat £190 ingesamel het om mense wat tekorte ervaar het te help.

Die nadraai van die vloed het darem vir die volgende paar jaar baie beteken vir die ekonomie van Louis Trichardt. “Hierdie gebeurtenis het Louis Trichardt op die kaart geplaas sover [dit] Rhodesië betrref, en sal ons sekerlik in die toekoms baie daarby baat,” het die destydse stadsklerk opgemerk.

Volgens Tempelhoff was die klerk reg in sy voorspelling. In die jare wat gevolg het ná sikloon Astrid was vriendskaplike betrekkinge met die Zimbabwiërs van groot belang vir die dorp. Dit het die ekonomie van Louis Trichardt aansienlik bevoordeel namate Zimbabwe in die daaropvolgende jare die teiken van internasionale boikotaksies geword het.

News - Date: 18 January 2018

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: