ADVERTISEMENT:

 

Met die twee verdagtes steeds op vrye voet teen druktyd, het die polisie gevra dat enige iemand met moontlike inligting oor wie die verdagtes kan wees en waar hulle hul bevind, onmiddellik die ondersoekbeampte in die saak, speursersant Tshifhiwa Netshia, moet skakel by tel. 066 263 4915. 

Wees paraat!

 

Louis Trichardt inwoners is die afgelope week gewaarsku om hulle eie veiligheid op te skerp ná ‘n vlaag gewelddadige rooftogte by huise. In die ergste van die mees onlangse gevalle is die 69-jarige mnr. Willem van Wyngaardt van Reitzstraat in sy huis ingewag, aangerand, beroof en vir dood agtergelaat. Al hoe meer aanduidings word gevind dat die geweld die werk van dieselfde twee mans is.

Van Wyngaardt is Woensdag, 23 Maart, net ná 22:00 die aand in sy huis oorval, pas nadat hy van ‘n vriend se verjaardagpartytjie teruggekeer het. In daardie stadium het die twee mans reeds Van Wyngaardt, wat alleen bly, se stokou, halfblinde en halfdowe hondjie, Sasha, doodgeslaan. “Hulle het haar met die windbuks se kolf doodgeslaan en die windbuks bo-op haar gelos,” het Van Wyngaardt se skoonseun, mnr. Ettienne van Heerden, Dinsdag gesê.

Volgens Van Heerden het sy skoonpa verbete weerstand gebied, maar hy was nie opgewasse teen die meedoënlose klappe en houe van sy aanvallers nie. Hy is onder meer met ‘n ysterpyp oor die kop, skouers en bene geslaan. Een van die aanvallers was met ‘n klein handwapen gewapen, maar gelukkig is die wapen nie teen Van Wyngaardt gebruik nie. In ‘n stadium, het Van Heerden gesê, het een van die mans sy skoonpa probeer verwurg en Van Wyngaardt het sy bewussyn verloor. Sy voete en hande is agter sy rug vasgebind, waarna die aanvallers ’n hondekombersie om Van Wyngaardt se kop gedraai het en met ‘n elektriese koord om sy nek vasgebind is. In daardie stadium het Van Wyngaardt sy bewussyn verloor. Die twee aanvallers is daarna weg met Van Wyngaardt se Honda CRV wat in die motorhuis was, ‘n .22- en .303-geweer, sy selfoon en ‘n paar ander items.

“Hulle het hom vir dood gelos,” het Van Heerden gesê.

Was dit nie vir Van Wyngaardt se bure se honde wat vreeslik begin blaf het nie, sou hy dalk heel moontlik nie die aand oorleef het nie. Sy bure het iets gehoor wat soos ‘n bees klink en gaan ondersoek instel. Hulle het toe vir Van Wyngaardt net buite sy huis op die grond gevind, steeds vasgebind en met die kombers om sy kop. Niemand weet hoe Van Wyngaardt dit reggekry het om uit die huis te kom nie, selfs nie eens hyself nie.

Die polisie en Soutpansberg Dorpswag se hulp is dadelik ontbied. “Ons het net ná 02:00 Donderdag die oproep gekry,” het Van Heerden gesê. Van Wyngaard is dadelik na die Zoutpansberg Privaathospitaal geneem vir mediese behandeling en kon wonderbaarlik dieselfde dag nog ontslaan word.

Van Wyngaardt bly tans by ‘n vriendin. Die trauma van die nagmerrie-ondervinding spook egter steeds by hom. “Dit gaan oraait met hom, maar hy is lus vir niemand nie. Ek dink dit vat bietjie emosioneel aan hom … hy het seer, maar hy gaan aan,” het Van Heerden gesê. Dit gesê is hulle dankbaar vir almal se bystand en ondersteuning.

Die beskrywing van die twee mans wat Van Wyngaardt in sy huis ingewag het, stem ooreen met die twee wat die oggend van 18 Maart die 70-jarige me. Elsa Vos in haar woonstel in Kokstraat, nie ver vanwaar Van Wyngaardt woon nie, aangeval het. Toe sy 03:00 die oggend wakkerskrik, was die twee mans klaar in haar kamer. Hulle het haar erg aangerand, haar uit haar huis die bosse ingesleep, en toe probeer om ‘n “losprys” te eis het vir haar vrylating van ‘n vriendin wat hulle haar vanaf haar selfoon laat skakel het. Ook sy het wonderbaarlik die aanval oorleef. Die aanvallers het onder meer haar foon en skootrekenaar gesteel. Hulle het ook haar voertuig probeer steel, maar dit agtergelaat.

Die vlaag van terreur in die “ou dorp” het op 3 Maart begin toe ‘n gesin, ook van Kokstraat, skaars ‘n paar huise vanwaar Vos bly, kort ná 05:00 die oggend in hulle huis oorval is. Ook hulle is aangehou, vasgebind en onder meer van hul voertuig beroof. Volgens inligting verskaf is ‘n klein handwapentjie by hulle gesteel wat ooreenstem met die klein wapentjie wat telkens deur die twee mans in hulle aanvalle gebruik word. Die een man word beskryf as lank en Engelssprekend, terwyl die ander een kort is en vlot Afrikaans kan praat.

Ontstellend genoeg is ‘n 57-jarige vrou aan die onderkant van Burgerstraat die oggend van 19 Maart in haar huis oorval, beroof en verkrag. Sy het volgens die polisie omstreeks 02:00 wakker geword en ‘n man in haar kamer gevind. Hy het vermoedelik deur ‘n oop venster toegang tot die huis gekry. Hy was ook gewapen met ‘n klein handwapen en het met ‘n bietjie kontant en juwele op die vlug geslaan, nadat hy die vrou oorrompel en verkrag het. Die vrou se skoonpa was ten tye van die voorval ook in die huis.

Gerugte het die afgelope naweek die ronde begin doen dat die polisie twee verdagtes in verband met die voorvalle aangekeer het. Plaaslike polisiewoordvoerder konstabel Irene Radzilane het egter by navraag gesê dat hulle geen kennis dra van sulke arrestasies nie. Sy het ook gesê dat hulle nie in hierdie stadium kan sê dat dieselfde twee mans vir die aanvalle verantwoordelik is nie. “Wat ons wel kan sê is dat die verdagtes se modus operandi telkens dieselfde is,” het Radzilane gesê.

Met die twee verdagtes steeds op vrye voet teen druktyd, het Radzilane gevra dat enige iemand met moontlike inligting oor wie die verdagtes kan wees en waar hulle hul bevind, onmiddellik die ondersoekbeampte in die saak, speursersant Tshifhiwa Netshia, moet skakel by tel. 066 263 4915. Die twee mans hou beslis hulle slagoffers dop. Veral bejaarde mense wat alleen bly moet ekstra versigtig wees.

Intussen het die Soutpansberg Dorpswag die volgende waarskuwing op hulle WhatsApp-groepe versprei. “Ons doen ‘n beroep op almal om hulle veiligheid by die huis op te skerp. In die laaste maand was daar vier inbrake gewees, wat ons van kennis dra, waar die slagoffers ernstig aangerand is. Wees asseblief waaksaam en rapporteer dadelik enige verdagtes sodat daar ondersoek ingestel kan word om te probeer voorkom dat enige verdere inbrake of aanrandings plaasvind. Die 4 aanvalle/inbrake het in die Charlie Sektor (Ou Dorp) plaasgevind.”

 

News - Date: 31 March 2022

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: