ADVERTISEMENT:

 

Die Louis Trichardt substasie waar Eskom-personeel verlede week die dorp se elektriese kapasiteit vanaf 48 MVA na 66 MVA opgegradeer het. Alhoewel die opgradering goeie nuus is vir ontwikkelaars en sakelui in Louis Trichardt, is die onlangse gebeure by dieselfde substasie minder goeie nuus vir Levubu-inwoners.

Opgradering gaan dorp help, maar nie Levubu nie

 

News - Date: 02 April 2022

Ná jare se beloftes dat die Louis Trichardt substasie opgradeer sal word om te voorsien in die dorp se groeiende vraag na elektrisiteit, het hierdie opgradering uiteindelik verlede Donderdag, 24 Maart, plaasgevind. Alhoewel die gepaardgaande kragonderbreking (wat uiteindelik die geskeduleerde 12 ure met etlike ure oorskry het) ‘n paar inwoners warm onder die kraag gelaat het, was die deursnee inwoner dit eens dat die opgradering goeie nuus is vir die dorp.

Die werk is op versoek van die Makhado Munisipaliteit deur Eskom-personeel by Louis Trichardt se hoofsubstasie net buite die dorp verrig. Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het by navraag gesê die opgradering het teen ‘n koste van sowat R16 miljoen plaasgevind, met die substasie se kapasiteit wat vanaf 48 MVA (megavolt-ampère) vergroot is na 66 MVA. Die geld vir die projek is reeds drie jaar gelede deur die Makhado Munisipaliteit en die Departement van Minerale en Energie bewillig vir die projek.

Een Louis Trichardt inwoner wat baie opgewonde is oor die ekstra kapasiteit is elektriese ingenieur mnr. André Slabbert. Volgens hom is heelwat groot ontwikkelings vir Louis Trichardt aan die kom wat sal baat by hierdie ekstra kapasiteit. Sedert einde verlede jaar, het Slabbert gesê, het die stadsraad ook reeds weggedoen met die 50 kVA (kilovolt-ampère) beperking op ontwikkelings aangesien meer krag beskikbaar geword het op die dorp se sisteem nadat mense krag meer spaarsaam begin gebruik het weens beurtkrag. Wat ook bygedra tot die “spaar kapasiteit” in elektrisiteit is die feit dat meer en meer mense oorgeskakel het na alternatiewe kragopwekking soos sonkrag.

“Vir ontwikkeling is dit baie positief. In beginsel het ons sowat 20 MVA ekstra gekry. Die vraag is nou net: Hoe vinnig gaan ons dit opgebruik? Almal sit nou al vir jare hulle vingers en draai en wag. Nou het dit gekom. Dit is hoekom almal nou wil inspring en ekstra krag hê,” het Slabbert gesê.

Alhoewel dankbaar vir die ekstra elektrisiteit, is Slabbert egter bekommerd oor die dorp se bestaande elektriese infrastruktuur. “Ons het nou ekstra kapasiteit, maar die dorp se eie infrastruktuur het ook dringende aandag nodig om daardie ekstra kapasiteit by al die plekke uit te bring,” het Slabbert gesê.

Hy het bygevoeg dat almal orals kragkabels aanlas. “Wanneer gaan hulle begin kyk na die opgradering van die kragkabels waaraan ons aanlas?” wou Slabbert weet. Wat dit betref het hy verwys na die ekstra geld wat ‘n ontwikkelaar moet betaal as hy ekstra kapasiteit oor 50 kVA nodig het. Dit word “ingenieurskoste” genoem, met hierdie geld wat aangewend moet word om die kragsisteem “op te gradeer” om die ekstra kapasiteit wat gevra word te akkommodeer. Maar daar is ‘n probleem. Voorheen het die munisipaliteit aan ontwikkelaars verduidelik hoe hierdie koste bereken word, wat egter nie meer gebeur nie. “Nou kry jy net ‘n brief wat sê die ontwikkelaar moet R522 336 betaal. As ek vir hulle vra hoe kom hulle by daardie bedrag uit, sê hulle vir my ‘Nee, dit is konfidensieel’. Al wat hulle verduidelik is dat dit verbonde is aan die dorp se elektriese infrastruktuur en dat hulle die geld nodig het om die infrastruktuur op te gradeer,” het Slabbert gesê. In beginsel, ongeag wat die bedrag is, maak dit sin sê Slabbert, maar hy bevraagteken of hierdie geld ooit wel aangewend word om opgradering van infrastruktuur te doen.

Slabbert beskou egter steeds verlede week se opgradering en ekstra kapasiteit as goeie nuus vir die dorp. “Die manne bel my. Ek sê vir hulle almal ‘Kêrels, as julle geld het, kan ons aansoek doen. Julle sal dit kry’. Dit sal nie afgeskiet word nie,” het Slabbert gesê.   

Tesame met die goeie nuus dat die Louis Trichardt substasie nou uiteindelik opgegradeer is en meer kapasiteit gee, is ook slegte nuus ontvang, veral vir diegene wat deur die Levubu 66 KV-lyn vanaf die dorp se hoofsubstasie bedien word.

“Ons kry in hierdie stadium vanaf Eskom krag,” het Levubu inwoner Lana Hoffman Dinsdag gesê. As verteenwoordiger van die Levubu-gemeenskap veg sy nou al ‘n maande-lange stryd teen die Makhado Munisipaliteit ten opsigte van kroniese kragonderbrekings en -probleme in die Levubu area weens elektriese infrastruktuur wat in duie stort.

Die kroniese kragonderbrekings op die Levubu lyn het gemoedere so opgejaag dat ‘n noodvergadering op 4 Maart vanjaar belê is met die top bestuur van die Makhado Munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling. “Ek moes mense vra om asseblief kalm te bly,” het Hoffman gesê.

Skokkende onthullings is tydens die vergadering deur die munisipaliteit gemaak. Boere het gehoor dat beide die 15 MVA transformators wat die Levubu 66KV-lyn vanaf die Louis Trichardt substasie bedien stukkend is en die lyn totaal dood is. Die een transformator het reeds in September 2021 opgepak, waarna die tweede een op 9 Februarie ingegee het, vermoedelik nadat dit deur weerlig getref is.

“Dit is hoekom ons so gesukkel het met ons krag. Al twee transformators was stukkend en hulle was oneerlik daaroor. Hulle het dit stil gehou en ons nie daarvan gesê nie,” het Hoffman gesê. Intussen is krag na Levubu herlei via Eskom lyne wat insluit die Levubu 1- en 2-lyne en vanaf Eskom transformators by Mashau en Tshakhuma.

Volgens Hoffman het boere in die omgewing sedert die tweede transformator op 9 Februarie opgepak het, sowat R3,8 miljoen se berekenbare skade in drie weke gely. Dit was in die tyd wat die munisipaliteit die skade verswyg het en krag van allerhande ander plekke probeer herlei het. Die verliese was ten opsigte van onder meer die aankoop van brandstof vir kragopwekkers en skade aan masjinerie vanweë fluktuasies in die kragtoevoer. “Nie alle boere het eers hulle verliese deurgegee nie. Dan is daar nog die onberekende skade. Dit is wat in oeste lê wat nie in daardie tyd besproei kon word nie. Dit moet nog uitgewerk word,” het Hoffman gesê.

Bobodi is gevra oor die skade aan die twee 15 MVA transformators. In antwoord het hy gesê die twee transformators is reeds na spesialiste in Johannesburg gestuur vir herstel. Volgens hom sou hulle Woensdag hierdie week die spesialiste besoek om die omvang van die skade te bepaal en om uit te vind of die transformators herstel kan word. Eers dan, het Bobodi gesê, sal hulle kan terugvoer gee oor wanneer munisipale kragtoevoer weer op die 66 KV-lyn na Levubu herstel sal word en wat die herstel sal kos. Dit gesê, het Bobodi ook genoem dat hulle wel begroot het vir twee nuwe “step-up” transformators soos die twee wat stukkend is.

Wat laasgenoemde betref is Hoffman egter skepties. “Hulle het nie regtig ‘n begroting nie. Hulle wag vir die nuwe finansiële jaar vir goedkeuring,” het Hoffman gesê. Die munisipaliteit se nuwe finansiële jaar begin op 1 Julie vanjaar. As die beskadigde transformators nie herstel kan word nie, sal dit wel vervang moet word. Kenners in die bedryf het egter gesê dat sulke transformators ses maande voor die tyd bestel moet word en dat dit kontant betaal moet word by bestelling. Hoffman hou dus nie haar asem op dat Levubu se kragprobleme vinnig opgelos gaan word nie. Wat dit betref was haar raad aan Levubu-inwoners bloot dit: “Mense wat wil voortbestaan sal moet begin kyk na alternatiewe kragvoorsiening.”

 

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]


Search for a story:

 

ADVERTISEMENT

 

Recent Articles

Moyo starts a new life by selling his jujube

News: 31 August 2024

The economic conditions in Zimbabwe forced Tanaka Moyo (40) to legally seek greener pastures in Musina. He opted for a unique business plan, selling the wild jujube fruit to make a living. The fruit, called masau in Shona, is better known as mazwilu in Tshivenda.

Makonde women make jam from wild fruits to help create jobs

News: 31 August 2024 By Victor Mukwevho

As the unemployment rate in South Africa continued to rise, a group of women from Makonde village decided to start a community-based project to create job opportunities for themselves. However, it is very difficult to continue with the project without support from the government or the private sector.

At age 104, war veteran Sadiki only wishes for a toilet inside his house

News: 31 August 2024 By Maanda Bele

At the age of 104, William Masindi Sadiki still has many stories to tell. Some of these are about his experiences during World War II, when he was part of the North Africa campaign. He is one of the few black soldiers from that era still alive, and he proudly pins his war medals on his chest on formal occasions.

Rivoni School for the Blind nearing completion - at last

News: 31 August 2024 By Thembi Siaga

The Rivoni School for the Blind in in Njakanjaka village in the Vhembe District has 167 learners from Grade R to Grade 12. The school was started in 2016 by the Rivoni Society for the Blind, founded in June 1975 at Elim Hospital by late Swiss doctor Erwin Sutter. The society later transferred responsibility for the school to the Department of Education.

 

ADVERTISEMENT: