ADVERTISEMENT:

 

Wyle De Necker van Schalkwyk. Foto: Facebook.

De Necker van Schalkwyk dood gevind

News - Date: 13 October 2023

 

Nuus van die dood van die 28-jarige De Necker van Schalkwyk het Woensdag soos ‘n veldbrand aangedryf deur ‘n sterk wind deur die streek versprei. De Necker se lyk is vroeër die oggend in Hermanus gevind.

Teen druktyd was min besonderhede bekend oor wat tot sy dood aanleiding gegee het. Aanvanklike gerugte wou hê dat dit ‘n selfdood was, maar latere inligting het dit weerspreek.

Van Schalkwyk het vroeër vanjaar die nuus gehaal met sy beleggingskema, bedryf onder die naam MakaTrade, wat deur baie as ‘n Ponzi-skema beskryf is. Die skema het soveel as 12% rente per maand op beleggings belowe. Plaaslike beleggers het na skatting etlike miljoene in die skema belê.

Van Schalkwyk het nie oor die nodige magtiging beskik om beleggings vir lede van die publiek te doen nie, maar tog het dit nie beleggers afgeskrik nie. Hy het in ‘n onderhoud met die Zoutpansberger in Junie vanjaar gesê dat hy die winste genereer deur aanlyn verhandeling op verskillende internasionale beurse.

Nadat die koerant verslag gedoen het oor die skema, het Van Schalkwyk laat weet dat hy in die proses is om sy registrasie by die Finansiële Diensteraad in plek te kry. Hy sou in Julie die nodige eksamens aflê wat hom in staat sou stel om die proses te begin om akkreditasie te kry.

Van Schalkwyk het einde verlede jaar vanuit Louis Trichardt na Hermanus verhuis. Alle aanduidings is dat hy daar voortgegaan het met die aanlyn verhandeling.

Teen druktyd was bitter min inligting amptelik beskikbaar wat meer lig kon werp op Van Schalkwyk se dood. Die stasiebevelvoerder in Hermanus, Kol. Luthando Nosilela, wou niks oor die voorval sê nie en het versoek dat vrae per e-pos aan hom gestuur word. Dit is gedoen, maar hy het nie gereageer nie.

Die plaaslike koerant, die Hermanus Times, het bevestig dat ‘n voorval aangemeld is van 'n moord wat ondersoek word. Volgens Bianca du Plessis, ‘n joernalis by die koerant, het die stasiebevelvoerder aan hulle bevestig dat 'n man se liggaam Woensdagoggend in Hermanus gevind is. Dié man was volgens Kol. Nosilela die vorige dag (Dinsdag, 10 Oktober) as vermis aangemeld, nadat hy nie huistoe teruggekeer het nie.

“Hy het gesê hy gaan na 'n vulstasie toe, maar toe hy ure later nie teruggekeer het nie en sy selfoon afgeskakel was, is hy as vermis aangemeld,” het Nosilela aan die Hermanus Times gesê.

Ná 'n uitgebreide soektog is die man se motor verlate by Rotary Way gevind.

“Speurders het Woensdag teruggekeer na die toneel waar die voertuig gevind was. Ná ’n verdere soektog het hulle, nie ver daarvandaan nie, op die man se liggaam afgekom. Die oorledene het 'n skietwond gehad maar geen vuurwapen is op die toneel gevind nie. Die polisie ondersoek 'n saak van moord,” het Nosilela bevestig.

Die polisie het egter nie die naam van die slagoffer bekendgemaak nie en slegs gesê die ondersoek is “baie sensitief”. Vriende en familielede het egter bevestig dat Van Schalkwyk wel oorlede is.

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: