ADVERTISEMENT:

 

Wyle Tjorra Nagel (56). Foto verskaf.

Oud-rugbyspeler se skielike dood kom as groot skok

News - Date: 03 November 2023

 

Nuus van die skielike dood van bekende oud-rugbyspeler van Louis Trichardt Tjorra Nagel het vir familie en vriende as groot skok gekom. Hy is Maandagmiddag in die ouderdom van 56 jaar oorlede, vermoedelik aan ‘n massiewe hartaanval.

In die Soutpansberg het Tjorra geen bekendstelling nodig gehad nie en word hy deur baie beskryf as een van Louis Trichardt se groot rugbylegendes. Hy was ‘n oud-leerling van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, waar hy gematrikuleer het, en daarna is hy direk polisie toe. Hy het sy opleiding in 1989 voltooi, waarna hy na Louis Trichardt toe verplaas is.

Tjorra het sy vrou Onea op Louis Trichardt ontmoet en drie kinders, Angelique, Rudi en laatlammetjie Rulique, is uit die huwelik gebore. Die egpaar het op 3 Oktober vanjaar hulle 33ste huweliksherdenking gevier.

Ná sy jare as polisieman het Tjorra onder meer by Elegant Fuel gewerk, asook sy eie bou-besigheid bedryf. Die rugbyfront is egter waar Tjorra uitgeblink het. Buiten dat hy vir jare vir die dorp uitgedraf het, het hy ook rugby afgerig by die Louis Trichardt Rugbyklub. So ook het hy Bulletjierugby op laerskoolvlak afgerig en op hoërskoolvlak eerstespan rugby. Hy was ook vir vyf jaar betrokke by die Bokkieweek.

“Ons dink vanaand aan ons ou maat en Bokkie coach ‘Tjorra Nagel’ Johan. Jy was ‘n man lief vir sy kinders, sy gesin, sy spelers en sy pelle! Was altyd daar langs die veld, op die veld en geduld gehad vir almal. Gou om te help, gou met raad, gou met 'n grap en gou met 'n plan. Het lekker gelag en ons kon lekker kuier tot laat … ons moeg gemaak. Rus in vrede, ou mata, ons gaan jou mis. Verre Noord gaan jou mis. Ons salueer jou!” het Wessel Venter kort ná die nuus van Tjorra se dood op die Facebook-groep Verre Noord Bokkie week geplaas.

Tjorra en sy familie het sowat twee jaar gelede uit Louis Trichardt na Modimolle (Nylstroom) verhuis, waar hy ‘n plaas net buite die dorp aangeskaf het. Sy droom was om eendag sy eie stukkie grond te besit. Daar het hy bietjie van alles gedoen.

Op ‘n vraag oor hoe mense Tjorra sal onthou, het sy swaer Dawid Bester soos volg gereageer: “Tjorra was Tjorra; daar was net een Tjorra. Hy was Tjor vir sy vrou en Tjorra vir sy kinders, sy familie en vriende. As jy gepraat het van Johan Nagel, het mense nie geweet wie is dit nie, maar sodra jy van Tjorra praat, het die mense geweet van wie jy praat. Dan kom daar gewoonlik iets uit van hoe die persoon van Tjorra weet en hom onthou, 'n rowwe bliksem met 'n baie klein hart. Een van sy goeie eienskappe was dat hy nooit sleg gepraat het van mense nie. Hy het altyd gesê: ‘Ken jy die persoon oor wie jy so sleg praat?’ Soos vir sy pa [wyle oom Hans], was familie vir hom belangrik.”

Wyle Tjorra se begrafnisdiens vind Saterdag, 4 November, om 11:00 op sy plaas buite Modimolle plaas.

Die familie het hulle dank uitgespreek teenoor die gemeenskap vir hulle oproepe en boodskappe van vertroosting. Hulle het ook ‘n spesiale woord van dank gerig aan AVBOB vir hulle flinke en professionele diens, asook vir Koot Erasmus vir sy onvoorwaardelike ondersteuning en bystand.

 

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: