ADVERTISEMENT:

 

In die voorgrond lê die 58-jarige Laxon Madzingira, wie se liggaam Sondag deur polisieduikers uit die Albasinidam gehaal is. Hy is die pa van die 28-jarige Effort Madzingira, wie se liggaam die vorige dag in die dam gevind is. Foto: Thembi Siaga (Limpopo Mirror).

Gru-vondse in Albasini

 

‘n Hengeluitstappie op die Albasinidam het Saterdag, 2 Maart, meer opgelewer as wat  die hengelaars op gereken het, nadat hulle ‘n man se liggaam in ‘n visnet in die water gevind het.

Dié gru-vonds is gemaak deur die 23-jarige Heine de Jager, wat saam met sy meisie en ‘n groep vriende gaan visvang het. Heine en sy meisie was op ‘n boot en sy vriende op ‘n vlot.

Volgens Heine het hulle so tussen 10:00 en 10:30 ‘n net in die water opgemerk wat met polistireen merkers bo-aan bo die water gehou is. Soos baie ander boothengelaars het hulle die net begin uittrek, nie net omdat dit ‘n onwettige praktyk is nie, maar ook omdat hierdie nette skade aan bote en hulle buiteboordmotors kan aanrig.

“Met dié wat ons die net begin uittrek, het daar ‘n stuk klere in die net verskyn. Bietjie verder af het ons skielik ‘n liggaam in die net gesien,” het Heine gesê.

Die gru-vonds van die man se liggaam het almal op die boot en vlot geskok. “Dit is maar ‘n nare ding en mens weet nie regtig wat om te dink nie. Daar gaan soveel dinge deur jou gedagtes dat jy nie regtig iets voel nie,” het Heine gesê.

Heine het dadelik sy pa, Heine senior, geskakel en hom gevra om asseblief die polisie te skakel. Volgens Heine was die polisie redelik vinnig op die toneel. “Toe hulle daar aankom, moes ons hulle op ons boot uitvat, aangesien hulle nie ‘n boot gehad het nie,” het Heine gesê. Die polisie het die liggaam losgesny uit die net en bo-op Heine-hulle se boot getrek. “Dit is maar half naar, want die ou is nie eers toegemaak of in ‘n sak gesit daar op die dek van die boot nie,” het Heine gesê.

Veral vir Heine se meisie (wat verkies het om anoniem te bly) was dit ‘n traumatiese ervaring. “Sy vat dit glad nie goed nie. Vir ons mans is dit seker een ding, maar dit is nou regtig nie iets waaraan jy ‘n vrou wil blootstel nie,” het Heine gesê.

Nadat die liggaam oewer toe gebring is, het Heine die nodige polisieverklarings afgelê. Op die einde van die dag het hy en sy vriende toe nie eers uitgekom by visvang nie. Hy het gesê dat hy so iets nie gou weer wil beleef nie. “Ek dink Albasini sien my, asook die mense wat daar was, vir ‘n rukkie nie weer nie,” het Heine gesê.

Maar dit was nie die einde van die naweek se gru-vondse op die Albasinidam nie...

Sondag, 3 Maart, is ‘n tweede man se liggaam in die dam gesien dryf, waarna polisieduikers die liggaam gaan uithaal het. Volgens adjudant-offisier Vuledzani Dathi, woordvoerder van die polisie in Vhembe, was dit die pa van die man wie se liggaam Saterdag uit die net gesny is. Die seun is geïdentifiseer as die 28-jarige Effort Madzingira van Zimbabwe. Sy pa was die 58-jarige Laxon Madzingira, ook van Zimbabwe. Volgens familie van hulle het hulle gereeld vis gaan vang met nette in die dam.

Dathi het in ‘n verklaring gesê dat die Makhado polisie twee geregtelike doodsondersoeke in verband met die pa en seun se dood geopen het. Hulle liggame is na die staatslykshuis op Elim geneem vir amptelike outopsies en verdere polisieondersoek.

 

News - Date: 08 March 2024

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: