ADVERTISEMENT:

 

Wyle tannie Ann Fogwell (77). Foto verskaf.

Tannie Ann se plekkie nou leeg aan oom George se sy

 

Die Soutpansberg-gemeenskap treur hierdie week saam met die 82-jarige oom George Fogwell van Louis Trichardt met die hartseer nuus van sy vrou, tannie Ann (77), se dood Dinsdagoggend, 26 Maart.

Oom George het vertel dat tannie Ann so twee jaar gelede Covid opgedoen het, en alhoewel sy daarvan herstel het, het haar longe letsels oorgehou. In Februarie vanjaar het hulle bietjie vir familie en vriende in die Kaap en Natal gaan kuier, waar tannie Ann weer begin sukkel het met haar longe. Maandagaand kon sy omtrent nie slaap nie weens asemnood. Oom George het vertel hoe sy gesê het dit voel vir haar of daar ‘n gewig op haar bors is. Dinsdagoggend het oom George vir tannie Ann na die Crestcare Zoutpansberg Privaathospitaal geneem. Sy is egter kort ná haar aankoms dood. Volgens oom George het dokters vir hom gesê dat tannie Ann ‘n hartaanval gehad het en dat sy heel moontlik ook die vorige aand een gehad het. Tannie Ann het sowat 10 jaar gelede ‘n vier-aar hartomleiding gehad.

Plaaslik het oom George en tannie Ann geen bekendstelling nodig nie vanweë hulle verbintenis met die plaaslike Massey Ferguson agentskap en Tractor Field Services, van wie oom George-hulle die eienaars is. Tannie Ann se dood het vir oom George ontydig gekom. Die egpaar sou op 18 April vanjaar hulle 60ste huweliksherdenking vier, met tannie Ann wat net die vorige dag haar 78ste verjaarsdag sou vier.

Tannie Ann is op 17 April 1946 in Oos-Londen gebore. Op vierjarige ouderdom het sy saam met haar ouers na die destydse Rhodesië verhuis. Haar pa, wyle Benjamin Samuel Coetzee, sou egter in 1963 na Suid-Afrika terugkeer as pastoor by die AGS-gemeente op Louis Trichardt.

Daardie selfde jaar het oom George en tannie Ann mekaar in die kerk ontmoet. Die daaropvolgende jaar (1964) is hulle getroud en kort daarna het hulle na Vereeniging verhuis, nadat oom George ‘n aanbod ontvang het vir werk as ‘n handelaar-tegnikus vir Massey Ferguson. Vier van die egpaar se vyf kinders sou in Vereeniging gebore word, naamlik Connie, Terence, Debbie en George jnr.

Ná sowat 10 jaar in Vereeniging het die egpaar besluit om terug te keer na Louis Trichardt, waar hulle jongste seun, Bennie, gebore is. Oom George wou kom boer en het Bonsmaras gekoop om mee te begin.

Nie lank daarna nie het die destydse General Motors-agentskap (Alderson & Flitton) hom egter ‘n pos aangebied as werkswinkelbestuurder. Hy het sowat 20 jaar vir die agentskap gewerk, tot in 1994, toe George jnr. matriek geskryf het. Hy en George jnr. het toe hulle eie Massey Ferguson werkswinkel begin onder die naam Tractor Field Services. In 1998 het hulle die Massey Ferguson agentskap bekom, wat vandag nog in bedryf is.

Oom George het vertel dat tannie Ann haar hele lewe ‘n huisvrou was. Omdat sy Engels grootgeword het, was die Afrikaans maar altyd moeilik vir haar. Hy het haar na hulle troue Afrikaans leer praat.

Teen druktyd was nog geen finale begrafnisreëlings ten opsigte van tannie Ann bekend nie, behalwe dat die familie bevestig het dat dit eers ná die langnaweek sal plaasvind. Wyle tannie Ann word oorleef deur haar man, oom George, kinders Connie, Terence, Debbie, George jnr. en Bennie, sewe kleinkinders en broer Michael Coetzee van Kaapstad.

Oom George het sy dank uitgespreek teenoor die gemeenskap van Louis Trichardt vir hulle bystand en woorde van vertroosting in hulle tyd van hartseer. Hulle het ‘n spesiale woord van dank gerig aan dr. Anton Stroebel vir sy jarelange diens en vriendskap aan die familie.

News - Date: 29 March 2024

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: