ADVERTISEMENT:

 

Wyle Jan Jacobs (72). Foto verskaf.

Bekende akademikus verloor stryd teen kanker

 

Familie en vriende het Woensdag ‘n finale eer betoon aan Jan Jacobs van Louis Trichardt, wat op 18 April in die ouderdom van 72 jaar aan kanker oorlede is. ‘n Gedenkdiens vir sy lewe is vir hom gehou waartydens sy as in die gedenkmuur by die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente geplaas is.

“Hy was altyd positief gewees en het nie ‘n negatiewe haar op sy kop gehad nie. Hy sou van niemand sleg praat nie. Hy het geveg tot op sy einde.” So onthou sy vrou Trysie haar eggenoot van 49 jaar en kinders Anri [Fourie] en Jan-Karel hulle pa.

Jan Hendrik Jacobs was in lewe ‘n volwaardige akademikus. Gebore op 10 Desember 1951 te Ventersdorp, het hy op ‘n plaas in die huidige Noordwes Provinsie opgegroei. Ná skool het hy besigheidsbestuur aan die Noordwes Universiteit (Potchefstroom Kampus) gaan studeer. Op universiteit het Jan vir Trysie ontmoet het en die twee is op 22 November 1975 op Lichtenburg getroud.

Terwyl Jan besig was met sy meestersgraad in besigheidsbestuur, het hy ‘n navorsingspos aan die Universiteit van Pretoria aanvaar en by voltooiing van sy meestersgraad het hy ‘n pos by die destydse Evkom aanvaar. Hy was by Megawatt Park in Fourways werksaam.

In 1982 het Jan besluit om terug te keer na die akademie en om ‘n loopbaan daarin te volg, deur ‘n lektoraat te aanvaar by die Pretoria Technikon. In 1986 is hy tot departementshoof by die technikon bevorder.

In 1987 het Jan ‘n mede-professoraat aanvaar by die Universiteit van Venda (Univen) waar hy instrumenteel was in die vestiging van ‘n departement in besigheidsbestuur. Kort daarna het die familie na Louis Trichardt verhuis. Sedertdien het Jan voltyds klas gegee by Univen, tot en met sy aftrede in 2015 op die ouderdom van 65 jaar. Tog het hy nog vir drie jaar daarna deeltyds klas gegee. Tot onlangs toe was hy ook nog eksaminator en moderator verbonde aan die Universiteit van Limpopo. Tydens sy dienstydperk by die universiteit het hy ook talle buitelandse reise onderneem. Hy was onder andere vir drie maande in Japan, waar hy ‘n opleidingskursus voltooi het. Hy was ook verantwoordelik vir samesprekings met Georgia State University in Atlanta, Amerika, en ná talle besoeke het hy samewerking tussen die twee instansies gekoördineer.

Sowat twee jaar gelede is Jan met kolonkanker gediagnoseer. Ná ‘n operasie en behandeling het hy in remissie ingegaan, waarna hy en Trysie middel verlede jaar Engeland toe getoer het waar sy seun, Jan-Karel, woon. Terwyl hulle daar was het Jan groot genot daarin gevind om die Springbokke in aksie te sien in hul wedstryd teen Wallis op Cardiff en om die tenniseindstryd op Wimbledon te gaan kyk. Jan was veral lief vir sy tennis en ‘n kranige tennisspeler by die Louis Trichardt Tennisklub.

“Elke Donderdagaand het hy en Bennie Smith, Marius Schutte en Pierre du Preez ‘n staande afspraak gehad. Hulle het seker vir 20 jaar elke Donderdag gespeel,” het Trysie gesê. Sedert sy kankerdiagnose kon hierdie gereelde tennisafspraak egter nie meer plaasvind nie. “Dit was vir hom baie erg,” het Trysie gesê.

Kort nadat Jan-hulle van Engeland teruggekeer het, het dokters kolle op sy longe waargeneem. Die prognose was nie goed nie – die kanker was terug en het na sy longe versprei. “Die afgelope maand het dit na sy lewer versprei en sy gesondheid het drasties agteruit gegaan. Die laaste twee weke het dit baie vinnig gegaan,” het dogter Anri gesê.

“Ons het nog gedink ons gaan saam 80 word. Dit is vir my so hartseer. Ons het dit nie verwag nie. Hy het dit ook nie so gou verwag nie,” het Trysie gesê.

Buiten vir Jan se loopbaan van bykans drie dekades as akademikus en sy liefde vir tennis en ook rolbal, was hy ook baie lief vir die natuur en kosmaak. Op geestelike gebied was hy ‘n baie pligsgetroue kerkganger, eers by die Doppers en later by die NG Kerk. “Dit was vir hom bitter belangrik. Hy het die kerk baie lief gehad en was ‘n Godvresende man gewees,” het Trysie gesê.

Soos genoem is ‘n gedenkdiens vir wyle Jan Woensdag by NG Kerk Louis Trichardt-gemeente gehou. Hy word oorleef deur sy vrou Trysie, seun Jan-Karel, skoondogter Oksana, dogter Anri, skoonseun Renier en ses kleinkinders.

“Hy was baie toegewyd aan sy werk en sy gesin sal hom onthou vir sy innemendheid en liefdevolle, behulpsame geaardheid. Ons al hom baie mis,” het die familie gesê. Hulle het ook hulle opregte dank uitgespreek teenoor die gemeenskap van Louis Trichardt en omstreke vir hulle woorde van vertroosting en ondersteuning in hierdie tyd van hartseer. Hulle het ‘n spesiale woord van dank gerig aan dr Anton Stroebel, wat deurlopend vir Jan en die familie tydens sy siekte bygestaan het.

 

News - Date: 26 April 2024

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: