ADVERTISEMENT:

 

Die 42-jarige Andrew Baird Bezuidenhout van Louis Trichardt, wat die afgelope 20 jaar baie navorsing gedoen om uit te vind wie sy voorsate was en waar hy oorspronklik vandaan kom. Foto verskaf.

Andrew vind homself in soeke na familie se geskiedenis

 

Vir Andrew Baird Bezuidenhout (42), welbekende inwoner en lewensafrigter van Louis Trichardt - en reeds vir 20 jaar in die bediening - is om te weet waar iemand vandaan kom baie belangrik. Hy het selfs die “nuutjie” van ‘n DNA toets vir stamboomdoeleindes, met die hulp van Karel Bezuidenhout, ‘n genealoog, laat doen.

Genealogie, oftewel familienavorsing, is ‘n eeue-oue stokperdjie. Waar inligting vanaf familie, uit argiewe en ander rekords verkry word, verskaf die Internet deesdae ‘n magdom inligting wat nooit voorheen beskikbaar was nie. Andrew het reeds geruime tyd gelede doenig geraak met die opstel van sy stamboom. Die  Zoutpansberger het ‘n tyd gelede berig hoe die familie mekaar deur familienavorsing raakgeloop het en boonop uitgevind het dat hulle afstammelinge van ‘n Skotse koningshuis is.

Die navorsingsgogga het intussen vir Andrew behoorlik gebyt. “Die ‘MyHeritage’ webwerf is een van dié wat ‘n magdom inligting verskaf.  DNA toetse word deur hierdie organisasie onderneem en uitslae is geweldig interessant. ‘n Genealoog vir die ‘Clan Baird Society Worldwide’, Crystal T Davis, het my ook gekontak. Hulle was nooit bewus van ‘n tak van die Baird-familie in Suid-Afrika nie. Die hele stamboom het in plek begin val – iets wat my baie opgewonde maak!” vertel Andrew.

John Baird, gebore in Skotland, het met die Tweede Britse besetting van die Kaap (Battle of Blaauwberg) in 1806, saam met sy oom, Generaal Sir David Baird, in Suid-Afrika aangekom. Laasgenoemde was die “1st Baronet of Newbyth”. John is in 1818 gekies as adjunk-landdros van Beaufort-Wes. Ná sy dood in 1845 is die familie skriftelik in kennis gestel van John se nalatenskap uit Skotland. ‘n Ramp het die familie getref toe die Springfontein damwal in 1869 gebreek het en die huis waarin al die dokumentasie was meegesleur is.

Sedertdien kon die Baird-familie nooit weer die konneksie kry met Bairds in ander dele van die wêreld nie. “Ná 20 jaar se navorsing saam met ‘n niggie is skriftelike bewyse uit Skotland verkry wat ons met Generaal Sir David Baird se familie verbind het. Ons kon ná 200 jaar die Bairds van Suid-Afrika by die uitgebreide Baird-stamboom inskakel. Hierdie konneksie is deur Crystal bevestig.

“Ek was onlangs baie verbaas – eintlik geskok - toe ek na van die ander Baird-familielyne begin kyk het en besef het dat ons skakel met ‘n magdom koninklike lyne - van byvoorbeeld Skotland, Engeland, Frankryk, Spanje en Wallis. Een van ons grootoupas, Gilbert Baird, is ook die groot-oupa van koningin Camilla van Engeland (http://www.wargs.com/royal/camilla.html)."

Andrew bevestig die belangrikheid daarvan om te weet waar mens vandaan kom. “Deur navorsing te doen en daarmee saam jou DNA te laat toets, gaan ‘n hele nuwe wêreld oop. Só toon my uitslae dat ek van 51% Skandinawiese afkoms is, 27% Iers, Skots en Wallies, 12,2% Wes-Asië, 8.8% Oos-Europees en 1% Italiaans. Jou verlede het ‘n groot invloed op jou toekoms. Ek sien dit elke dag in my beroep as ‘n lewensafrigter,” sê Andrew en neem dit in aanmerking wanneer hy sê: “It’s time to live the life you were born to live.”

Indien enige lesers meer oor familienavorsing en die saamstel van stambome te wete wil kom, kan hulle gerus op die Internet rondsnuffel. Die saak moet egter met omsigtigheid hanteer word, want foute kom wel voor. Hulp is ook verkrygbaar van die FAK se Genealogielessenaar. Isabel Groesbeek kan gekontak word by: [email protected] . Werkswinkels word gereeld aangebied, bv. “Wie, Wat, Waar” (4 Mei, Voortrekkermonument-terrein). Jaarliks op Erfenisdag (24 September) word ‘n “Familie- en Erfenisfees” by dieselfde terrein aangebied. Familienavorsers kan daar uitstal en besoekers kan gaan kyk hoe dinge gedoen word!

 

News - Date: 04 May 2024

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: