ADVERTISEMENT:

 

Die Groenwaterslang kom volop in die streek voor en tensy jy ‘n padda, vissie of akkedissie is, is hy heeltemal onskadelik. Foto verskaf.

Hierdie pragtige groen slang volop in die Soutpansberg

 

In hierdie week se bydrae oor die streek se slange fokus die Zoutpansberger op die Groenwaterslang, oftewel Philothamus hoplogaster, vir die geleerdes.

Diegene wat klaar na die foto hiernaas gekyk het, sal seker vir hulself sê: Maar die ding lyk alteveel na ‘n Groen Mamba of Boomslang. Dit is juis hierdie vergelyking wat die slang se grootste doodsteek is … letterlik.

Volgens slangkenner en -vanger Jan “Slang” van Rooyen kom hierdie pragtige groen slangetjie algemeen in die Soutpansberg voor en word hulle veral in piesangtrosse gevind. “Hulle word ongelukkig  voor die voet dood gemaak, omdat mense hulle verwar met die Groen Mamba en selfs met ‘n Boomslang. Let wel, GEEN Groen Mambas word in ons streek aangetref nie, maar slegs langs die Natalse kuslyn tot in Mosambiek,” het Jan gesê.

Jan het ook benadruk dat hierdie slang van ongeveer 60 cm tot 80 cm heeltemal onskadelik is vir die mens. Hulle jag aktief in die dag en hul spyskaart bestaan uit paddas, vissies en akkedissies. “Alhoewel hierdie ‘n waterslang is, hou hulle van bosse, struike en bome. Soortgelyk aan die Gespikkelde Bosslang is hierdie slangetjie ook uiters vinnig. Hulle word nie maklik gevang nie en kom nie sommer in ‘n huis in nie,” het Jan gesê.

Soos meeste ander slange sal die Groenwaterslang ook altyd probeer om van mense af weg te kom. “So, wanneer die slang teëgekom word, los hom maar eerder met rus. Hy is onskadelik en sal self wegbeweeg,” het Jan gesê.

Vir die verwydering van enige ongewenste slang kan Frikkie Venter geskakel word by tel. 082 058 7601. Vir meer inligting aangaande hierdie slang en ander, kan Jan geskakel word by tel. 081 217 9213.

 

News in brief - Date: 18 March 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: