

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 February 2002
LOUIS TRICHARDT – Talle plaaslike verkeers- en polisiebeamptes sal heel moontlik binnekort op die rooi tapyt beland om te verduidelik waarom hulle blikkies kos vir eie gewin vanaf 'n noodlottige ongelukstoneel verwyder het.
Dit volg nadat beide mnr. Koos Brits van die plaaslike Verkeersafdeling, asook die bevelvoerder van die plaaslike polisiestasie, Supt Janse Ngoveni dié week bevestig het dat hulle ondersoeke ingestel het na die voorval. Die ongeluk het op 9 Januarie net buite Louis Trichardt op die Messina-pad plaasgevind. 'n Vragmotor met sowat 34 ton geblikte kos het omgeslaan, waarna beide polisie- en verkeersbeamptes, asook 'n magdom omstanders, ten aanskoue van lede van die publiek openlik 'n groot hoeveelheid van die geblikte kos in hul voertuie gelaai en selfs ook tussen die lyke in die polisie se lykswa ingepak.
Na wat verneem word beweer die betrokke beamptes dat hulle toestemming gehad het om van die kos te vat. Beide mnr. Brits en Supt Ngoveni is dit egter eens dat al sou hulle toestemming gehad het, dit ongehoord is dat polisie- en verkeersbeamptes items en goedere vanaf 'n ongelukstoneel verwyder.
"Elke geval sal op meriete beoordeel word," het mnr. Brits opgemerk, terwyl Supt Ngoveni gesê het dat daar 'n staande opdrag is dat niks van 'n ongelukstoneel verwyder mag word vir eie gewin nie.
Die voorval het ietwat van 'n verleentheid veroorsaak vir insp. Ben van Biljon wat al vir etlike jare optree as lyksbesorger by die plaaslike polisie. Insp. Van Biljon was met verlof tydens die voorval en was inderdaad nie betrokke by die voorval nie. Hy het egter, na eie ondersoek, bevestig dat die polisie se lykswa wel gebruik is om van die kos mee weg te ry. Hy het ook bygevoeg dat hy van plan is om stappe te neem teen die persone wat dié betrokke dag sy voertuig misbruik het.

ADVERTISEMENT:
