

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 01 March 2002
LOUIS TRICHARDT – Rugbygeesdriftiges kan uitsien na ‘n fees van rugby tydens die jaarlikse Conwaydag eerskomende Saterdag, 2 Maart.
Die Conwaydag word bestempel as een van die belangrikste sportgebeure op die dorp se sportkalender en lok jaarliks spanne van sover as Pretoria. Altesaam sewe klubs sal aan vanjaar se toernooi deelneem.
Die dag se verrigtinge sal om 09:00 afskop met ‘n wedstryd tussen Louis Trichardt III en Levubu II, waarna Letaba II en Messina II om 10:15 op die veld sal draf.
Om 11:30 kom Duiwelskloof I teen Messina I te staan en om 13:15 sal Louis Trichardt II en Pilditch II mekaar die stryd aansê. Levubu I en Centurion se wedstryd volg om 14:30, terwyl Letaba I en Weermag se wedstryd om 16:00 sal afskop. Die hoofwedstryd tussen Louis Trichardt I en Pilditch I begin om 17:30.
Volgens die organiseerders verwag hulle vanjaar die grootste opkoms nog by die wedstryde. Toegang beloop R10 per voertuig en buiten vir die kontantkroeg, sal daar ook die dag ligte etes te koop aangebied word. Die dag se verrigtinge sal afgesluit word met ‘n prysuitdelingsfunksie en ‘n gratis dans in die rugbylapa.

ADVERTISEMENT:
